Bokspan: Damian in vir Willie, Ivan vervang Faf

Nou sal die ondersteuners werklik weet watter waarde Willie le Roux en Faf de Klerk tot die Springbokspan toevoeg.

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het Donderdag in Londen byna geen ander keuse gehad nie as om die onervare Damian Willemse (heelagter) en Ivan van Zyl (skrumskakel) in die twee gevierde Bokke se plekke te kies vir Saterdag se toetswedstryd teen Engeland op Twickenham.

Met Le Roux (London Wasps) en De Klerk (Sale Sharks), wat nie beskikbaar is nie omdat die kragmeting buite Wêreldrugby se toetsgleuf val, sal dié twee jongelinge moet instaan.

Le Roux (50 toetse) het in byna net soveel toetswedstryde gespeel as wat Willemse minute lank (51 minute) in sy drie verskynings (as plaasvervanger) op die veld was.

De Klerk het reeds 20 toetse agter die blad en Van Zyl net drie, waarvan hy net in een, teen Wallis in Washington, in die opdrafspan was.

Le Roux en De Klerk was die gom wat die Springbokke se agterlyn vanjaar aanmekaar gehou het – eers in die drie toetse teen Engeland en toe in die Rugbykampioenskap.

Namate die seisoen gevorder het, het hul rolle uitgebrei en het hulle al hoe belangriker geraak.

Nou rus daardie taak op Willemse en Van Zyl se skouers.

Willemse het die bykomende taak om saam met die twee (onervare) vleuels Aphiwe Dyantyi (nege toetse) en Sbu Nkosi (drie toetse) die agterste driehoek te beman. Op die aanval is daar geen probleme nie, want al drie is wonderlike systappers en het vaart van die merk af.

Maar hoe gaan hulle verdedig – onder die verwagte hoë skoppe, voor 82 000 hartstogtelike ondersteuners, en in die koue?

Origens is die span gekies soos wat algemeen verwag is.

Dis ʼn ysterpak vol ervaring, met die flank Duane Vermeulen terug in die saal. Daar is vier slotte, met Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit in die beginspan, en RG Snyman en Lood de Jager op die bank om die Engelse te boelie; ʼn uiters stewige voorry (Stephen Kitshoff, Malcolm Marx en Frans Malherbe) en ʼn begaafde lostrio (Vermeulen, Warren Whiteley en Siya Kolisi).

Maar agterlangs?

Dis hoekom die losskakel Handré Pollard en die senterpaar Damian de Allende en Jesse Kriel moet raakvat, en die verantwoordelikheid op hulle moet neem.

Die Springbokspan is (met aantal toetswedstryde en punte tussen hakies) –

15. Damian Willemse (3, 0), 14. Sbu Nkosi (3, 10), 13. Jesse Kriel (36, 50), 12. Damian de Allende (33, 20), 11. Aphiwe Dyantyi (9, 30), 10. Handré Pollard (35, 293), 9. Ivan van Zyl (3, 0), 8. Warren Whiteley (21, 15), 7. Duane Vermeulen (42, 15), 6. Siya Kolisi (kaptein, 37, 25), 5. Pieter-Steph du Toit (42, 20), 4. Eben Etzebeth (73, 15), 3. Frans Malherbe (25, 0), 2. Malcolm Marx (20, 20), 1. Steven Kitshoff (33, 5). Bank: 16. Bongi Mbonambi (22, 10), 17. Thomas du Toit (5, 0), 18. Wilco Louw (11, 0), 19. RG Snyman (8, 0), 20. Lood de Jager (36, 20), 21. Embrose Papier (4, 0), 22. Elton Jantjies (29, 223), 23. André Esterhuizen (5, 0).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Swartwolf ·

Agterlyn gaan uitmekaar uit val. Willemse is te jonk, te min en te dun op heelagter. De Ellende te stadig en een dimensioneel op senter en hemele behoed ons van Zyl op skrumskakel met Papier op die bench. HKGK.

Wolf in Skaapklere ·

Ten minste is Van Zyl baie vinniger agter die skrum as Faf. Ek het niks teen Faf nie, maar hy maak die spel stadig en gee opponente geleentheid om te herorganiseer. Maar dalk sluk ek my woorde…., dalk nie

rollie ·

Te dun? Hy’s frisser as ou warm en koud Willie. De Allende is al jare ons beste senter en baie vinniger as Esterhuizen (sy regstreekste mededinger om die posisie). Enigste ou wat oor die voordeellyn kan kom. Lyk my jou rugbykennis is maar gebrekkig.

Lol ·

Beslis nie die regte agterse 3 vir Europese weersomstandighede.

B-man ·

Nou weet ek hoekom ons so lekker reën gekry het… Beast is nie in die span nie!

nico k ·

Ja in England gaan skoprugby seker die patroon wees en ons sal maar moet sien of ons agterste drie sal kan staan. Maar ek weet nie wie anders hulle kan kies nie. Ons het darem ‘n goeie pak voor en moet maar net hoop dat ons die bal besit kan beheer.

Frans C ·

Is daar werklik so’n tekort aan heelagters in Suid Afrika dat Willemse op heelagter ingespan moet word?

Smirre ·

Gepraat van te min en te dun……SP vir toetsrugby?? WP dwergery op sy beste.

Swartwolf ·

@rollie: net ingeval jy nie opgelet het nie Willie word reeds beskou as ‘n wereldklas speler, heelagter of vleuel. Willemse sukkel nog om ‘n posisie te kry tussen heelagter, senter en losskakel. Laas Sa was hy power op senter en het in o/20 gesukkel op losskakel. Waar het hy homself bewys as heelagter op senior vlak ? Gepraat van rugby kennis…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.