Bokspan teen Wallis dalk effense kopseer vir Rassie-hulle

Rassie Erasmus. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Die Springbokafrigter Rassie Erasmus het reeds deeglik beplan om ʼn paar moontlike slaggate wat vanjaar in die Bokke se pad kan wees, te vermy.

Die Springbokke speel op 22 Junie op Twickenham in Londen (buite die toetsvenster) in ʼn eenmalige toets teen Wallis, gevolg deur twee toetse in Julie teen Ierland (6 en 13 Julie), een teen Portugal (20 Julie), waarna die Rugbykampioenskap teen die All Blacks, Wallabies en Poemas in Augustus en September volg.

Erasmus en sy nuwe afrigtingspan sal nie hul span vir die toets teen Wallis dadelik kan vasknoop nie omdat hulle nie weet of spelers van die Bulls of Stormers (en dalk ook nog die Lions as hulle verras) beskikbaar gaan wees oor hul moontlike betrokkenheid by die uitspeelrondes van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) nie.

Maar soos ons Erasmus leer ken het, het hy reeds met die beplanningsessie in Kaapstad die eerste sooie gespit. Die sessie is deur 43 van die land se voorste spelers (39 plaaslike spelers) en vier spelers wat vir Japan speel, maar van beserings herstel, bygewoon.

Die Japanse seisoen word oor ʼn paar weke afgehandel en dan sal Bokke soos Cheslin Kolbe, Damian de Allende, Malcolm Marx en Franco Mostert hulle by hul spanmaats vir ʼn tweede en derde sessie aansluit.

Wat Erasmus se taak vergemaklik, is die 27 spelers by die eerste voorbereidingskamp wat reeds toetservaring het. Erasmus het by die belyningskamp seker gemaak dat die spelers op dieselfde golflengte is; hy het uitgespel wat van hulle verwag word, die rol wat die twee nuwe konsultante Tony Brown (agterlyn) en Jerry Flannery (voorspelers) gaan speel en hoe hy sy spanne gaan kies en roteer.

Die eindstryd van die VRK op 22 Junie kan egter Erasmus se grootste kopseer wees, want dit beteken dat spelers van die Bulls of Stormers dalk nie beskikbaar gaan wees nie as een van hulle tot by die eindstryd vorder.

Boonop kan van die oorsese spelers, soos André Esterhuizen, Handré Pollard, Cobus Reinach, Trevor Nyakane, Siya Kolisi en Jasper Wiese nie beskikbaar wees nie omdat die Engelse en Franse seisoene nog nie afgehandel is nie.

Dit behoort nie ʼn wesenlike probleem teen Wallis te wees nie, want die Rooi Drake moes vanjaar met die houtlepel in die Sesnasies-reeks tevrede wees. Nie een van die vier Walliese spanne kon in die VRK die vure aansteek nie en saam kon hulle tot dusver net 15 wedstryde van 52 wedstryde wen.

Erasmus sal vanselfsprekend sy beste span vir die twee toetse teen Ierland kies, wat hoofsaaklik uit spelers sal bestaan wat verlede jaar die Webb Ellis-trofee in Frankryk gelig het. Hy kan dalk ʼn paar nuwelinge teen Wallis en ook later teen Portugal inspan.

Dit is moeilik om te voorspel wat sy denkrigting teen Wallis gaan wees, weens die onsekerheid oor die Bulls en Stormers (en dalk die Lions), en moontlik ook van die spelers wat nog in Europa speel, wat dalk nie beskikbaar gaan wees nie.

Maar daar is oorgenoeg diepte en ervaring in elke posisie om nie die gevaarligte te laat flikker nie.

Só lyk Bokke se plaaslike toetsprogram vanjaar (die toets teen Wallis ingesluit):

  • Saterdag 22 Junie teen Wallis op Twickenham
  • Saterdag 6 Julie teen Ierland op Loftus Versfeld in Pretoria
  • Saterdag 13 Julie teen Ierland op Kingspark in Durban
  • Saterdag 20 Julie teen Portugal in Bloemfontein
  • Saterdag 31 Augustus teen Nieu-Seeland op Ellispark in Johannesburg
  • Saterdag 7 September teen Nieu-Seeland in Kaapstad
  • Saterdag 28 September teen Argentinië in Mbombela.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.