Bokspan: vier nuwes, geen Serfontein nie en ʼn paar vreemde keuses

Allister Coetzee-hulle het Sondag vier nuwelinge gekies in die Springbokgroep van 34 spelers wat vanaf 11 November op die jaareindtoer in vier toetse teen Ierland, Frankryk, Italië en Wallis sal speel, maar Jan Serfontein se naam is nie daar nie.

Serfontein, wat vanjaar as senter goeie rugby gespeel het, is na verneem word op eie versoek nie oorweeg nie omdat hy by sy nuwe klub Montpellier wil inval en sy plek daar wil oop speel. Omdat hy reeds 35 toetse gespeel het, meer as die vereiste van 30 wat deur die SA Rugby gestel word, was hy verkiesbaar.

Franco Mostert, Frans Louw en Elton Jantjies sal as oorsese spelers nie in die laaste toets teen Wallis op 2 Desember kan speel nie omdat dit buite die toetsvenster val.

Warrick Gelant, die Blou Bulle se heelagter met die gevaarlike aftrap, en die drie Sharks, die flank Dan du Preez, senter Lukhanyo Am en skrumskakel Louis Schreuder, is die vier manne in die toergroep wat nog nie toetsrugby gespeel het nie.

Raymond Rhule moet blykbaar nog vrotter in toetse vaar om weggelaat te word en dit gaan die verstand te bowe dat daar, selfs in hierdie tyd van skrumskakeldroogte, niemand beter as Rudy Paige is nie.

Am se insluiting as ekstra senter is na twee goeie seisoene allerweë verwag en hy is darem minstens op standaard, en Francois Venter wat tot dusver gereeld deel van die Bokgroep was, is ook gekies. Die verwagting is egter dat Damian de Allende die binnesenter in Serfontein  se plek sal wees.

Die insluiting van Am beteken dat daar nie plek was vir die Goue Leeus se senter Rohan Janse van Rensburg nie.

Curwin Bosch, wat Saterdag agter ʼn pak gespeel het wat in die Curriebekereindstryd aan die kortste ent getrek het en heeltemal deur Robert du Preez oorskadu is, is egter bo die WP se spelskepper en planmaker ingesluit.

Kan ʼn mens met Bosch se eina-verdediging waag? Beslis nie op toetsvlak nie.

Voorlangs keer die twee stutte wat teen Frankryk diens gedoen het, Beast Mtawarira en Coenie Oosthuizen, albei na onderskeidelik familieprobleme en ʼn armbesering terug. Uzair Cassiem is ook weer gesond, en Oupa Mohoje wat weens ʼn besering tot dusver nie deel van die Bokgroep was nie, is ook gekies.

Daar is ses stutte in die span. Die drie hakers sluit benewens vir Malcolm Marx en Boni Mbonambi ook vir Chiliboy Rallepelle in wat die naweek nie eers die Sharks se bank kon haal nie,.

Rallepelle  het in die laaste twee toetse op die bank gesit en is nie gebruik nie en het jare laas toetsrugby gespeel en weke laas enige noemenswaardige tyd op die veld deurgebring.

As Jean-Luc du Preez, wat Saterdag in die eindstryd vroeg met ʼn enkelbesering van die veld is, nie Maandag goeie nuus van ʼn skandering kry nie, sal ʼn ander flank in sy plek aangewys word.

Die span–

Voorspelers (19)
Uzair Cassiem, Lood de Jager, Ruan Dreyer, Dan du Preez, Jean-Luc du Preez, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Siya Kolisi, Francois Louw, Wilco Louw, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Oupa Mohoje, Franco Mostert, Beast Mtawarira, Trevor Nyakane, Coenraad Oosthuizen, Chiliboy Ralepelle
Agterspelers (15)
Lukhanyo Am, Curwin Bosch, Andries Coetzee, Ross Cronjé, Damian de Allende, Warrick Gelant, Elton Jantjies, Jesse Kriel, Dillyn Leyds, Rudy Paige, Handré Pollard, Raymond Rhule, Louis Schreuder, Courtnall Skosan, Francois Venter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.