Boktemmer-Haan oorlede

Jean Barthe – oorlede. (Foto: Twitter)

ʼn Lid van die roemryke Franse toerspan wat die Springbokke in 1958 op eie werf geklop het, is Saterdag in Frankryk oorlede.

Jean Barthe, wat destyds in albei toetse agsteman gespeel het, is in die ouderdom van 85 oorlede.

Dit was die eerste keer sedert 1896 dat Suid-Afrika hier te lande deur ʼn besoekende span geklop is – nie eens die All Blacks of Wallabies kon dit tot op daardie tydstip vermag nie.

Die Hane het die reeks beklink deur die tweede toets op Ellispark met 9-5 te wen, nadat die eerste een op Nuweland met 3-3 gelykop geëindig het.

Barthe het waarskynlik die reeks op eie houtjie beklink toe hy die Springbokvleuel Jan Prinsloo in die tweede toets op die doellyn uitgeduik het, om wat na ’n gewisse drie gelyk het in die kiem te smoor.

Al die Franse punte is met skoppe (insluitende drie skepdoele) behaal, en die Bokke het die enigste twee drieë van die reeks gedruk. Laasgenoemde was egter nie goed genoeg nie, en Suid-Afrika was in sak en as.

Barthe het Frankryk van 1954 tot 1959 in 26 toetse, ook as slot en flank, verteenwoordig.

Hy het daarna na league oorgeskakel in ʼn loopbaan wat tot 1967 geduur het, en het onder meer die Franse span in die 13-mankode aangevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.