Boland benut klubspelers op ongekende skaal

Die Bolandse Rugbyunie (BRU) skep tans geleenthede vir klubspelers om die Kavaliersgroep te haal op ʼn skaal wat ongekend is sedert die instelling van geldrugby.

ʼn Elitegroep van 28 klub- en o.20-spelers is saamgestel om deel te neem aan die voorseisoense oefenprogram van die Kavaliers.

Bonde soos die Pumas en die Westelike Provinsie het by geleentheid klubspelers op dié wyse ingetrek, en in eersgenoemde geval het enkele spelers op die duur tot op Curriebekervlak gevorder, maar die BRU se projek is van ʼn veel groter omvang.

Die gedagte is voorheen al geopper dat bonde soos die BRU, met beperkte geldbronne, eerder as voederbonde ontwikkel moet word. Dié eliteprojek kan die weg hiervoor help baan.

In die lig van die toenemende geldknyp in Suid-Afrikaanse rugby is dit ook moontlik dat meer bonde die BRU se voorbeeld sal volg.
Die groep sluit geen hakers in nie aangesien die Kavaliers tans geen tekort in dié posisie het nie.

Luidens ʼn verklaring wat die BRU in Wellington uitgereik het, sal ʼn span uit die groep saamgestel word om op 20 Januarie 2018 op Stellenbosch in ʼn littelosmaker teen die Universiteit van Stellenbosch (Maties) se Varsitybekerspan te staan te kom, met die oog daarop om spelers uit die groep by die Kavaliers se provinsiale groep vir 2018 te betrek – seker ook die naaste wat daar in die beroepsbedeling aan gesonde outydse proewe gekom kan word.

Randall Modiba, die Kavaliers se hoofafrigter, sê “dis belangrik om geleenthede te skep vir begaafde spelers binne die grense van die BRU.

“Daar is ʼn groot sprong van klub- na senior provinsiale vlak, dus is dit belangrik om ʼn middelvlak te skep, waar spelers stelselmatig betrokke kan raak by die beroepstruktuuur van Boland Rugby.”

Die uitsoekgroep sluit ook belowende spelers uit die bond se laer ligas in.

Die groep –

Stutte: Clarence van Wyk, JR Hoffmeester (albei Roses United), Robin Adams (Majestics).

Slotte/losvoorspelers: Emile Booysen (Hillcrest), Francois Erasmus (Darling), Francois Rossouw (Abbotsdale), Heinrich Adendorf (Grabouw), Phillip Jacobs (Boland o.20/Montagu), Benjamin Dwayi (Safcol).

Skrumskakels: Gerdwill le Fleur (Wesbank), Mervyn Langdown (Boland o.20/Montagu), JP Nortjé (Invincibles, Vredendal).

Losskakels: Colin Willemse (Robertson), William van Wyk (Ceres).

Senters: Tyrone Abels (Roses United), Earl Snyman (Robertson), Mtile Nelani (Boland o.20/Wesbank), Chemandre van Schalkwyk (Coronations, Malmesbury), Damion Vermeulen (Ceres), Llewellyn Hahn (Van Rhynsdorp Eagles).

Vleuels: Damian Engeldoe (Roses United), Barry Adonis (Boland o.20/Young Hearts, Pella), Enzo Foute (Boland o.20/Hamiltons, Worcester), Werner Nel (Delicious, Ceres), Rowan Rana (Roses United).

Heelagters: Jade Solomons (Young Hearts), Ryno Conradie (Rangers, Robertson).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

rico Stevens ·

Hi middag goeies BRU maar hoe kry klub afrigter die geleetheid om die speler beter te maak op klub vlak vra maar net

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.