Boland hoor wantrouemosie aan; geldsake bekyk

ʼn Wantrouemosie, ʼn uitvoerende bestuursverkiesing en die bond se geldsake was onder meer aan die orde by die Bolandse Rugbyunie (BRU) se pas afgelope jaarvergadering in Wellington.

Luidens ʼn verklaring wat Maandag deur die BRU uitgereik is, is die wantrouemosie toegelaat ondanks die ongrondwetlikheid daarvan. Pat Kuhn van die SA Rugbyunie (Saru) het by die stel van die mosie as voorsitter opgetree.

“Dis geen verrassing nie dat dit met ʼn oorweldigende meerderheid verslaan is,” word in die verklaring berig.

Die finansiële state het getoon dat die BRU die afgelope boekjaar met ʼn wins van R3 miljoen afgesluit het.

Dis die tweede opeenvolgende jaar dat die bond ʼn ongekwalifiseerde ouditverslag ontvang, in weerwil van mediaberigte wat die bestaan van allerhande wanpraktyke beweer het.

Vyf lede is tot die uitvoerende bestuur verkies: John Adams, Klaas Cloete, Maurice Markus, Burton Niemand en Bennie van Rooi.

Ivan Pekeur (president), Stephen Jones (visepresident) en Denver Pienaar se termyne duur voort.

Aanvegbaar

Met verwysing na Boland se goeie Curriebekerseisoen verlede jaar sê Pekeur in die verklaring dat dit aanvegbaar is dat die Pumas, wat verlede jaar agste was, vanjaar voorkeur bo Boland kry wat sewende was.

Hy het gewys op die sukses van die huidige formaat van die BRU se klubligas en die groot skares wat klubwedstryde lok, en aangedui dat daar belangstelling is om van die wedstryde op TV uit te saai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.