Boland verloor drie van hulle bestes vir Leeus-stryd

Nico Scheepers (Foto: Facebook)

Nico Scheepers (Foto: Facebook)

Terwyl die Goue Leeus se afrigter Johan Ackermann elf veranderinge aangebring het aan die span wat verlede naweek teen Griekwas vasgeval het, moes hulle teenstanders Vrydagaand op Ellispark, die Boland Kavaliers, self ʼn aantal onvermydelike veranderinge maak.

Ackermann het egter steeds die troef in sy hand met die diepte in die Leeus se uitgebreide groep. Die grootste gros van die elftal wat nie Vrydagaand speel nie, word ruskans gegun na die harde Superseisoen: Ross Cronjé, Jaco van der Walt, Lourens Erasmus, Jacques van Rooyen, Akker van der Merwe, Courtnall Skosan en Dylan Smith.

Terwyl die Superspelers rus, kry Ackermann die kans om van sy ander opkomende jonges kans te gee om op die vlak ervaring op te doen en hulle merk te maak.

Die Kavaliers, daarenteen, het nie dieselfde diepte nie. Watter Suid-Afrikaanse span het? Hulle het tans nege spelers in  hulle groep wat nie oorweeg kan word nie.

Die Bolanders het twee van hul vernaamste spelers voorlangs, die losvoorspelers Jacques Engelbrecht en Zandré Jordaan, weens beserings verloor wat verlede naweek teen die Sharks opgedoen is.

Nico Scheepers, die voormalige heelagter van die Vrystaat Cheetahs, die Cheetahs, Griekwas en die Griffons, is ook beseer. Benewens die ervaring van 60 provinsiale wedstryde is hy ook die Bolanders se beste skopper en stewig onder hoë skoppe. Hy het ses weke gelede teen die Welwitchias 45 punte in die opstellende ronde van die Curriebekerkompetisie aangeteken.

Theuns Kotze, die voormalige losskakel van die Universiteit van Johannesburg, is terug van Namibië se internasionale verpligtinge en is op losskakel ingesluit. Hy sal die Kavaliers se skopwerk behartig.

Wayne Wilschut en Shaun McDonald speel in Jordaan en Engelbrecht se plekke en die losskakel Adriaan Carelse skuif in Scheepers se plek na heelagter met Kotze wat in sy plek is.

Gerhard Jordaan begin op skrumskakel in die plek van Marnus Hugo en Joubert Horn begin op slot.

Die spanne –

Boland Kavaliers:
15. Adriaan Carelse, 14. Sergio Torrens, 13. Christopher Bosch, 12. Ryan Nel (kapt.), 11. Danwel Demas, 10. Theuns Kotze, 9. Gerhard Jordaan, 8. Wayne Wilschut, 7. Shaun McDonald, 6. Shaun Adendorff, 5. Joubert Horn, 4. Hanno Kitshoff, 3. Basil Short, 2. Francois Esterhuizen, 1. Francois Hanekom. Bank: 16. Clemen Lewis, 17. Enoch Mnyaka, 18. SP Wessels, 19. Ockie van Zyl, 20. Kenan Cronje, 21. Marnus Hugo, 22. Gerrit van Wyk.

Goue Leeus:
15 Andries Coetzee, 14 Selom Gavor, 13 Jacques Nel, 12 Howard Mnisi (kapt.), 11 Anthony Volmink, 10 Marnitz Boshoff, 9 Dillon Smit, 8 Ruaan Lerm, 7 Victor Sekekete, 6 Steph de Wit, 5 Martin Muller, 4 Ruan Ackermann, 3 Pieter Scholtz, 2 Ramone Samuels, 1 Corné Fourie. Bank: 16 Robbie Coetzee, 17 Dylan Smith, 18 Bobby de Wee, 19 Cyle Brink, 20 Ross Cronjé, 21 Koch Marx, 22 JW Bell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.