Bolander in murg en been brei Kavaliers

Randall Modiba (Foto: BRU)

Randall Modiba (Foto: BRU)

‘n Bolander in murg en been is as hoofafrigter van die Boland Kavaliers vir die komende seisoen aangestel.

Die Bolandse Rugbyunie (BRU) het Dinsdag op Wellington aangekondig dat Randall Modiba vir Brent Janse van Rensburg in diê pos opvolg.

Janse Van Rensburg se onverwagse bedanking ná een van die bond se suksesvolste seisoene die afgelope paar jaar het gevolg nadat die BRU sy direkteur van afrigting, Alan Zondagh, in `n skokstap ontslaan het. Eersgenoemde rig nou die Pumas af.

Modiba was die Kavaliers se verdedigingsafrigter in vanjaar se Curriebeker-opstelronde en die aanvals- en agterlynafrigter in die Curriebkerreeks. Hy het die afgelope 15 jaar deur die bond se strukture na bo gevorder.

Sy aanstelling geld van 1 Januarie af vir twee jaar.

Hy het groot sukses met verskeie van die bond se onderouderdomspanne gehad voor hy die afgelope twee jaar by die Kavaliers betrokke geraak het, onder meer as hoofafrigter van die o.19-spanne wat die nasionale o.19-reeks in 2009 en 2014 gewen het.

Modiba sal bygestaan word deur `n gewese Kavaliers-kaptein Henley du Plessis (voorspelerafrigter), Jacques du Toit (biokinetikus en krag- en konsisioneringsafrigter), en Dunia Mouneimne (fisioterapeut).

Luidens die verklaring het die Kavaliers-groep reeds in November vir aanstaande seisoen begin voorberei.

Ivan Pikeur, die president van die BRU, sê Modiba ken die bond baie goed, en tesame met sy tegniese vermoëns is hy meer as bekwaam om in sy rol te slaag.

Die nuwe hoofafrigter sê sy primêre doelstelling is om Boland tot groter hoogtes te laat uitsyg. Om dit te bereik sal hy benewens sy werk by die Kavaliers hand bysit met die ontwikkeling van klubspelers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.