Bolandliga: afgeskuifdes sorg vir rillerstryd

Twee afgeskuifde spanne het Saterdag vir ʼn rillerstryd in die Bolandse Rugbyunie (BRU) se reeks om die Streekuitdaagbeker gesorg.

Bonnievale United en Touwpark, wat verlede jaar nog om die Grootuitdaagbeker gespeel het, het “tussen die plate” op Bonnievale in die streek BreëLangeberg vir ʼn inklimstryd soos min gesorg.

Juri Kleinveld, ʼn woordvoerder van Bonnievale, laat weet sy span het eerste bloed geruik toe Xavier Pietersen in die hoek gaan druk het.

“Daarna het Bonnievale United op Touwpark se doellyn geboer en die druk het tot herhaalde oortredings deur die verdedigende span gelei.

“Ricardo Swarts het ʼn strafskop in punte omskep en ʼn strafdrie vir United het gevolg.”

Touwpark het kort voor rustyd ʼn strafdoel behaal om die rustydtelling 13-3 in Bonnievale se guns te maak.

Kleinveld sê die wedstryd is ná rustyd deur strafskoppe gekenmerk, en ʼn geelkaart is uitgedeel.

“Bonnievale kon slegs nog een keer die doellyn oorsteek toe Swarts na ʼn netjiese breekslag gedruk, en die drie self verdoel het.”

Touwsrivier het reg teen die einde sy enigste drie gedruk en dit verdoel.

♦ Gaby Kaalmeyer, die mediaskakelbeampte van Ceres, berig die klub het Saterdag in die Grootuitdaagreeks (WitSentraalstreek) ʼn bonuspuntsege van 35-20 oor Bella Vista behaal.

Jakobus Philander, Francois Basson, Damion Vermeulen en Clayton Isaacs (twee) het Ceres se driee gedruk. Die losskakel William van Wyk het die res met die skoen bygevoeg.

Kaalmeyer sê Ceres het laat slaplê nadat hy met 30-10 voor was.

“Daar was baie hanteerfoute wat bewegings gekelder het wat gewis op punte vir Ceres kon uitloop.”

Hy loof die span se agterlyn wat puik spel gelewer het.

♦ Spanwerk en deursettingsvermoe het Overhex in staat gestel om die wa deur die drif te sleep in ʼn baie gelykop derbystryd teen sy buurman Young Stars.

Só laat weet Jamie-Lee Pieterse, die wenspan se sekretaresse, van Overhex se oorwinning van 15-11 in die reeks om die Gemeenskapskild (BreëLangebergstreek).

Die eerste span van Overhex se speler van die wedstryd was Willem Lodewyk.

“Sy geesdrif het deurgaans aansteeklik op die res van die span ingewerk, en hy het veel gedoen om die spel te laat vloei.

Amien Jordaan en Llewellyn Fredericks het die eerste span se drieë gedruk, en Shandre Moloi het het met ʼn doelskop en ʼn strafdoel geslaag.

“André Visser, die tweede span se uitblinker, het sy span se enigste drie gedruk, en sy insig in die spel het sy span goed te pas gekom.

Kenneth-Ray Appollis het die res van die punte met ʼn strafdoel aangeteken.

Pieterse sê die klub hoop om ʼn goeie seisoen te ervaar, en die spelers wil elke Saterdag hul liefde vir die spel op die veld uitleef.
Overhex glo hy verloor nooit nie. As hy nie wen nie, leer hy.

♦ In die reeks om die Gemeenskapskild (Sentraalstreek) het Lanquedoc All Stars op Newtons se veld in Wellington met 29-23 teen Wamakersvallei gewen.

Gregory Viljoen, die sekretaris van All Stars, sê die wenspan het feitlik heeltyd agter geloop, en kon eers in die laaste kwartier deurbreek toe die losskakel wat van die bank af gespeel het, Romano Muller, twee vinnige drieë gedruk het.

Naas Muller het Christopher Fredericks (flank) puik met die wen van los balle gevaar, en Danvar Davids (stut) het ʼn barshou gespeel.

Jerome Daniels, Muller (twee) en Fredericks het All Stars se drieë gedruk. Danvar Daniels het vir drie strafdoele gesorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.