Bolandliga: Ceres byt in die stof teen Roses

Jakobus Philander van Ceres word in die stof gevryf deur ʼn speler van Roses United. (Foto: Gaby Kaalmeyer)

Ceres het Saterdag letterlik en figuurlik in die stof gebyt teen Roses United in die WitSentraalstreek van die Bolandse Grootuitdaagreeks.

Só laat weet Gaby Kaalmeyer, die mediaskakelbeampte van Ceres, nadat die Wellingtonse span die vrugteboere op ʼn klipharde en droë veld behoorlik laat sweet en met 43-26 geklop het.

Ceres kon darem ʼn bonuspunt huis toe neem deurdat hy vier drieë gedruk het.

Kaalmeyer sê Roses United moet krediet kry vir sy goeie spel, en in sy agterlyn behoort Rowen Rana uitgesonder te word.

“Ceres moes ʼn agterstand van 17 punte laat krimp om met 14 -17 te gaan water drink.

“Ná rustyd het Roses United weer met slim spel die voorsprong vergroot. Ceres moes aanmekaar inhaalrugby speel.

“Hy kan egter net homself verkwalik vir sy swak besluitneming in kritieke oomblike.”

Oscar Isaacs het twee drieë vir Ceres gedruk en Damion Vermeulen en Aldo Sauls elk een. Clayton Isaacs het met twee doelskoppe en William van Wyk met een geslaag.

Ceres se volgende wedstryd is 22 April tuis teen Wolseley.

♦ In die Overbergstreek van die Grootuitdaagreeks het Grabouw met 30-24 teen Genadendal gewen.

Ronelle Müller, die hulpsekretaresse van Grabouw, sê dis nooit maklik om op Genaal te wen nie, en die tuisspan het dit ook dié slag gewis nie maklik gemaak nie.

“Grabouw verdien lof vir die wyse waarop hy die oorwinning verseker het, toe Genaal dit amper reg teen die einde uit sy hande wou neem.

“Dit was voorwaar ʼn spanpoging, maar die grootste uitblinkers was Austin Adams, Juwayne Theunissen en Heinrich Klaasen, met laasgenoemde die beste.”

Müller sê Grabouw is heeltemal in die skrums oorheers, maar die tuisspan het by tye met moord weggekom wat onwettige skrumtegniek betref.

“Ons lynstane was daarteenoor stewig, en het aan ons goeie voorvoetbal gegee.

“Individualistiese spel in die agterlyn het Grabouw talle geleenthede ontneem om drieë te druk.

“Twee van die wenspan se drie drieë is uit gebroke spel gedruk, nadat goeie hande dit vinnig na die punte toe gevoer het het.”

Brendon Booysen (12), Donique Wildschutte, Elrico Baatjies, Klaasen (vyf elk) en Theunissen (drie) het vir Grabouw se punte gesorg.

Hillies woel Wolseley

♦ Die Hillies het Wolseley gewoel, laat weet Jovan-Ré Cupido, die sekretaris van die Wellingtonse span Hillcrest United, oor die skoonskip wat die klub Saterdag in die streek WitSentraal van die Grootuitdaagreeks gemaak het.

“Hillcrest United het Wolseley stil gespeel deur al 3 wedstryde te wen. Die eerste span het met 63-8, die tweede met 29-10 en die derde met 33-0 gewen.

“Dit het net 25 minute geduur vir die span van Wellington om vier drieë aan te teken.

“Die uitblinkers was HR Claasen, Phil-Lee George, Dane Kruger, Geoffrey Allies, en die speler van die wedstryd, Carlo van Greunen.”

♦ Robertson het daarin geslaag om Young Hamiltons van Worcester in ʼn Grootuitdaagbeker-wedstryd in die BreëLangebergstreek met 30-17 die loef af te steek.

Lionel Hendricks, die spanbestuurder van Robertson, sê die wedstryd het as skouspel aan alle verwagtinge voldoen, en die groot skare is op pragtige hardlooprugby vergas.

“Die tuispan het alle fassette van die spel oorheers en die eindtelling vlei die besoekers aangesien Robertson vier feitlik seker drieë op of oor die doellyn met ongedwonge foute verlore laat gaan het.

“Robertson het in die skrums verras deur drie vaskoppe teen die hoog aangeskrewe agttal van Hamiltons te haak.

“Vir die wenspan het die alomteenwoordige Steven Johnson, Hendrik Warnick en die kaptein, Oliver Regue, voorlangs uitgeblink, terwyl die senterpaar Earl Snyman en Herman du Toit die besoekers gereeld stof laat eet het,” berig Hendricks.

Groot uitblinker

“Die groot uitblinker en speler van die wedstryd was die heelagter Collin Willemse, wat die besoekers op die aanval sowel as die verdediging hoofbrekens besorg het. Sy taktiese en stelskopwerk was uitmuntend.

“Vir Hamiltons het die vleuel Enzio Foutie en die losskakel Austin Hendricks die oog gevang.”

Robertson beklee ná hierdie oorwinning weer die tweede plek op die punteleer van die Grootuitdaagreeks in die streek.

Willemse het ʼn drie gedruk en met drie elk doelskoppe en strafdoele geslaag om 20 punte aan te teken.

Snyman en Johnson het Roberson se ander drieë gedruk.

♦ In die Streekuitdaagreeks (Witzenberg) het Porseleinberg met 52-0 teen Môrester gewen.

Desmont Witt, die woordvoerder van Môrester, sê onnodige foute het sy span die wedstryd gekos. Dit was ook baie warm en die hitte het ʼn rol gespeel.

Hy berig Lee-Marco Grobler het met sy verbete duikslae en goeie skopwerk beïndruk, en Ebrahim Ockhuys het ʼn slag die bal skitterend onderskep en dissipline van die hoogste gehalte aan die dag gelê.

♦ In die Eerste Liga (SwartWeskus) het Porterville United met 31-22 teen Golden Swallows gewen, wat verlede jaar nog aan die reeks om die Gemeenskapskild deelgeneem het.

Pieter Swarts, die woordvoerder van Porterville United, sê sy span se voorspelers het in die vaste en loskrums oorheers.

“Porterville het as span baie goed saamgespeel, en die voorspelers het die pas aangegee.

“Die stut Justin Galant het hom goed van sy taak gekwyt voor hy in die 70ste minuut met ʼn ligte besering van die veld af is.

“Roland Pedro en Dustin Ockhuis (flanke) het die hele veld vol gespeel en laasgenoemde is as die speler van die wedstryd aangewys,” laat weet Swarts.

“Die slotte Herbert Cloephas en Petro Beukes het ook hul deel bygedra. Die nommer agt en kaptein, Christo Gouws, het die peil gestel.

“Clifford Gouws (skrumskakel) het goed tussen die voor- en agterspelers geskakel.”

Pedro, Clifford Gouws, Ockhuis en die plaasvervanger-skrumskakel Branwill Douman het Porterville se drieë gedruk.

Douman het ook ʼn doelskop en strafdoel vir ʼn totaal van tien punte behaal.

Jeremy Carolus (losskakel) het vir drie doelskoppe gesorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.