Die eindtelling was 17-17 (rustyd 3-8), maar dit is nie die telling van die Stormers teen die Sunwolves nie.
Dit was die uitslag tussen Moorreesburg (Samoa) en St Helenabaai, laat weet Morreesburg se skakelbeampte, Karel Willemse.
Hy sê die twee spanne het vir `n goeie Saterdagmiddag se vermaak in die Bolandse reeks om die Grootuitdaagbeker gesorg.
“Albei spanne het mekaar goed opgedreun en vir Leonardo Linnert (slot) van Samoa was dit `n droombuiging. Samoa, wat erg gekniehalter word deur beserings aan sleutelspelers, het die afgelope paar wedstryde verskriklik in die lynstane gesukkel. Linnert het Saterdag die oplossing verskaf vir goeie lynstaanballe en kan ontevrede wees oor sy drie wat die skeidsregter nie toegeken het nie.”
Willemse sê Samoa het soos die wind weggetrek en die eerste vyftien minute lank moes St Helena alles in die stryd werp om die tuisspan van sy doellyn af weg te hou.
“Tiaan Lesch het Samoa met `n strafskop laat voorloop. St Helena het toe die skroewe aangedraai en met goeie dryfwerk Samoa op die agtervoet gehou.
“`n Slordige aangee wat hopeloos te hard was tussen Samoa se losskakel en sy binnesenter het tot St Helena se drie gelei. `n Strafskop net voor rustyd het die besoekers verder laat voorloop.”
Willemse berig Samoa het in die tweede helfte weer die pap dik aangemaak. Nog twee strafdoele deur Lesch het gevolg en `n drie deur die tuisspan se heelagter, Mitchell Jacobs, ná wat die skeidsregter as `n vorentoe aangee beskou het. Ná `n langdurige beraadslaging met die assistent-skeidsregter is die drie toegeken.
Toe het St Helena drie strafskoppe deur die pale jaag om die telling 14-17 in sy guns te maak. Die gelykmakende strafskop is in die doodsnikke van die wedstryd deur Lesch oorgeklits.
Ander uitslae –
St Helena II 22, Moorreesburg II 20; Moorreesburg III 24, St Helena III 13.