Bolandliga: kollig op Villagerstryd

Die kollig in die Bolandse Rugbyunie (BRU) se Grootuitdaagreeks val Saterdag skerp op die stryd in die BreëLangebergstreek tussen twee klubs wat die naam Villagers voer.

Worcester Villagers, ʼn onlangse Bolandse kampioen en die bond se jongste verteenwoordiger in die internasionale klubreeks om die Goue Beker (GB), speel tuis teen sy genant van Montagu af.

Die Montaguse span het verlede jaar grootliks verras deur amper-amper die span van Worcester te klop. Laasgenoemde het op die ou end met 31-26 gewen, en Worcester se ongelukkige veldtog verlede jaar in die GB-reeks, kan die Montagu-span vanjaar tot groter hoogtes aanvuur.

Vir Worcester is elke wedstryd nou belangrik as hy sy titel wil terugwen.

Nog ʼn wedstryd in die streek wat ʼn strawwe stryd kan oplewer, is die derby tussen Robertson, wat verlede jaar die Bolandse halfeindronde bereik het, en sy buurman Rangers Robertson.

In die SwartWeskusstreek kan die kragmeting tussen Wesbank en Never Despair in ʼn sterk mededingende stryd ontwikkel.

Die Grootuitdaagkampioen, Hawston, behoort nie te sukkel om in die Overberg met Black Leaves af te reken nie.

Streekuitdaagbeker

♦ In die reeks om die Streekuitdaagbeker se BreëLangebergstreek kan die vonke in die botsing tussen Rawsonville en McGregor spat.

Rawsonville het verlede jaar teen Napier in die eindstryd verloor, en McGregor is die vorige houer van die beker.

Heelwat belangstelling heers ook oor die vertoning in die Overberg van die nuweling Swellendam teen die Streekuitdaagkampioen, Napier.

Swellendam is van die Suidwestelike Distrikte af na Boland oorgeplaas en het ʼn jaar of wat gelede nog in die SWD se Premierliga gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.