Bolandliga: mooi rugby, dog dissipline lol

Lionel Wanza van Ceres, die speler van die wedstryd teen Hamlet, laat loop die bal na sy agterlyn. (Foto: Gaby Kaalmeyer)

Die wedstryd tussen Ceres en Hamlet in die Bolandse Rugbyunie (BRU) het by tye goeie hardlooprugby opgelewer, maar die dissipline het soms gelol.

Gaby Kaalmeyer, die mediaskakelman van Ceres, sê vier geel kaarte en ʼn rooie is in die loop van die stryd aan die twee spanne uitgedeel.

Ceres het die klipharde wedstryd op die ou end met 31-23 gewen.

Kaalmeyer se Ceres het eerste punte aangeteken toe William van Wyk ʼn drie geruk en dit self verdoel het (7-0).

“Hamlet het egter verwoed teruggeslaan met twee vinnige onverdoelde drieë deur Jaiden Baron en Marlon Baron (7-10).

“Ceres se tweede drie het gekom toe Ricardo Ockhuys ʼn losbal opgeraap en onder die pale gaan druk het. Van Wyk het verdoel (rustyd 14-10).”

Kaalmeyer se albei spanne het na rustyd hard probeer om punte op die telbod te plaas, maar hul hanteerwerk het hul meestal in die steek gelaat.

Goue skopstewel

“Ceres se kaptein, Attie Mars, het sy eerste van twee drieë gedruk, en Van Wyk, met sy goue skopstewel, het verdoel (21-10)
“Hamlet het eers ʼn strafdoel behaal (21-13), waarop PJ Smith ná ʼn vinnige ingooi gaan druk het (21-18).

“Mars het onmiddellik vir Ceres teruggeslaan, en Van Wyk het geen moeite met die doelskop ondervind nie (28-18).

Kaalmeyer se Ceres het sy voorsprong met nog ʼn doelskop tot 13 gerek (31-18), voordat Hamlet se Dewald Klaasen die laaste sê met sy span se vierde drie gekry het (31-23).

♦ In die reeks om die Gemeenskapskild, Overbergstreek, het Gold Stars (Villiersdorp) met 21-16 teen Elim gewen.

Selwyn Alexander, die voorsitter van Elim, sê die nekslag is sommer binne die eerste 15 minute toegedien, toe Gold Stars twee driee van omkeerbesit van Elim-aanslane af gedruk het.

“Elim kon nie die kanse, bo kanse wat geskep is in punte omskep nie, en sy hanteerwerk laat dusver dié seisoen die span lelik in die steek.”

Hy sê Brendon Europa en Eljo October (stutte), was rotsvas in die skrums, en het Gold Stars se voorry gekarnuffel.

“Fyzel Afrika (agsteman) het twee drieë aangeteken en verwoesting met sy kraglopies op die aanval gesaai.

“August August (flank) was vinnig by die losgemale en het baie meters veld gewen met die reguit lyn wat hy hardloop. Op 40 wys hy die jonges hoe dit gedoen moet word.

“Danfren Kapot (senter) se kraglopies en goeie verdediging het die aandag getrek, en Franklin October, wat op vleuel begin en heelagter toe geskuif het, was uitsonderlik in laasgenoemde posisie met sy vaart, systappe en kraglopies wat telkens veld gewen het. Hy was insgelyks rotsvas op die verdediging.”

Garth Philander het die Blues se ander punte met twee strafdoele behaal.

Droewig

Alexander sê Elim ervaar ʼn droewige seisoen, en sal ernstige aandag aan sy hanteerwerk moet skenk, en klinies wees wanneer kanse geskep word om punte aan te teken.

“Dusver was dit die verskil tussen goeie vertonings en selfs wen of verloor in al die klub se wedstryde. “Die losgemale baar ook kommer, want die skoonmakery is goed, maar die beskerming van die bal daarna, is nie op peil nie.

“Die spelers moet die hand in eie boesem steek en hul vertonings opskerp.”

Alexander sê die bonuspunt wat verdien is, is geensins genoeg nie, en goeie vertonings is nodig in die aanloop tot die tweede ronde.

Rotsvas

♦ Desmond Witt, die woordvoerder van Môrester, laat weet Miracles het die klub se eerste span met 44-25 geklop, maar Môrester se tweede span het met 6-5 gewen.

Jay-dee Gouws en Le-Marco Rooi se verdediging vir die eerste span het beindruk, en Rayno Grobbler, Jeronavon Claasen en Johandro Pieters het die span se driee gedruk. Daylin Rooi het die res met skoppe bygevoeg.

Twee strafdoele deur Ebrahim Ockhuys het die tweede span in staat gestel om te wen, met Wilhelm Marthinus en Frankwill Maans se verbete duikslae wat die teenstanders van meer as een drie weerhou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.