Bolandliga: Moorreesburg seëvier dramaties

BOLAND-ama-logoMoorreesburg het Saterdag sy tuiswedstryd teen Vredenburg in die streek SwartWeskus van die Bolandse reeks om die Grootuitdaagbeker in die doodsnikke gewen.

Karel Willemse, Moorreesburg se skakelman, sê Samoa, soos die span in die wandel bekendstaan, het karakter getoon toe hy die wedstryd 30-29 gewen het nadat Vredenburg rustyd 22-17 voor was.

“`n Strafskop kort voor die eindfluitjie het `n einde aan `n wedstryd vol drama gebring.”

Hy sê Vredenburg kan tevrede wees met sy vyf drieë teenoor die tuisspan se drie. Samoa het baie beter as die besoekers pale toe gekorrel.

“Ruan van Rooy het die wenspan se rekening geopen met sy drie wat deur Tiaan Lesch verdoel is.

Teruggeslaan

“Kort hierna het Vredenburg vinnig teruggeslaan met `n goeie agterlynbeweging wat deur sy vleuel afgerond is. Twee foute deur die tuisspan het tot twee paselladrieë vir die besoekers gelei. Vredenburg kon in die eerste helfte net een van sy vier drieë verdoel.”

Willemse berig albei spanne het nog heelwat werk om te doen.

“Samoa se lynstane is nog nie heeltemal na wense nie. Vredenburg se hantering was nie seepglad nie. Die ondersteunende spel by albei spanne was met rukke en stote.

“Tog was daar ook baie positiewe tekens. By tye het albei spanne met goeie ondernemende spel vorendag gekom. Veral die tuisspan se agsteman, Carlo Mentoor, het goed vertoon. Ook die regtervleuel, Jehann Bonn, het met kragtige lopies vorendag gekom en sy verdediging was uitstekend.”

Hy sê die swaarder voorspelers van Vredenburg het die agttal van Moorreesburg harde bene laat kou, maar Arthur Adonis en Leroy Atkins kan trots wees op hul vertoning.

“Daar is ook `n nuwe ywer tussen die Samoa-spelers te bespeur en het `n mens het die gevoel gekry dat die spelers vir mekaar begin speel.”

Sug van verligting

Earl Scheepers, wat vanjaar die leisels as Samoa se hoofafrigter oorgeneem het, kon na afloop van die kragmeting `n sug van verligting slaak oor sy eerste tuisoorwinning.

Van Rooy, Mentoor en Heinrich Manuel het Moorreesburg se drieë gedruk en Lesch se drie doelskoppe en drie strafdoele het sy span 15 punte besorg.

united ashton♦ In nog `n wedstryd wat baie gelykop verloop het, het Ashton United in die streek BreëLangeberg met die louere weggestap toe hy Rangers Robertson op eie werf 31-27 gaan klop het.

Herman de Koker, die sekretaris van Ashton, sê die wedstryd het baie wipplank gery. Albei kante het baie foute begaan.

Rangers het vier drieë gedruk teenoor die drie van United.

Uitblinkerspelers aan die kant van United was Kosnati Kompela met sy kraglopies en Jeandré Joseph met sy vaart en gevaarlike voetwerk wanneer hy van agter af aangeval het. Steven Abrahams se skopwerk pale toe was gevaarlik akkuraat.

Joseph, Danfred Brown en Adriaan de Vos het die wenspan se drieë gedruk.

McGreggor-logo♦ In die reeks om die Streekuitdaagbeker het die huidige titelhouer, McGregor, op sy tuisveld 24-14 teen Klipdrift gewen deur die besoekers uit die staanspoor van hul voete af gespeel.

Die kampioen het sy eerste drie binne tien sekondes ná die afskop van `n agterlynbeweging af gedruk. Drie minute later het die agterlyn weer so gemaak.

Clement Hamilton, die kaptein van McGregor, het besluit om gebiedsrugby vir eers van die baan te vee en van alle hoeke van die veld begin hardloop. Dié resep het McGregor vier drieë besorg en die oorwinning verseker.

Hamilton sê dis moeilik om uitblinkers uit te sonder, maar spelers soos Jenville Page, Gavin Adendorff, Renaldo Tiger, Therence Fourie en Granville Davids het `n klompie mooi lopies ingekry en in alle fasette uitgeblink. Die kranige slot, Allistair Theunissen, het met drie spelers op sy rug oor die doellyn gehardloop.

Grishwynn Kraukamp, Davids, Theunissen en Jersvin Cupido het McGregor se drieë gedruk. Cupido en Hamilton het elk een verdoel.

McGregor, wat in die streek BreëLangeberg speel, besoek De Doorns die komende naweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.