Bolandliga: naamgenoot gee kampioen opdraand

worcester villagers - logoVillagers Montagu het die Bolandse kampioen en Goue Bekerspan, Villagers Worcester, opdraand gegee toe die twee spanne Saterdag sake in die bond se Grootuitdaagreeks uitgespook het.

Die titelhouer het die wedstryd in die streek Breërivier-Langeberg uiteindelik 31-26 gewen.

♦ Quintus Terblanche, `n woordvoerder van Villagers Worcester, sê Emile Saunders (twee) en Ulfred Terblanche het Worcester se drieë gedruk. Admey Strydom het 11 punte met drie strafdoele en `n doelskop behaal.

Villagers Worcester se tweede span het 18-7 gewen en die derde spanne het 10-10 gelykop gespeel.

Devon Espin het die derde span se drie gedruk en Emile Espin het dit verdoel en `n strafdoel bygevoeg.

GenadendalOverberg

♦ In die streek Overberg het Safcol van Grabouw 28-25 teen Genadendal gewen nadat laasgenoemde rustyd 20-10 voor was.

Verohne Arendse, `n woordvoerder van Genadendal, sê dit was `n tipiese stryd van twee helftes waar die tuisspan in die eerste helfte met `n heftige fisieke aanslag gekom en drie drieë teen een gedruk het.

“In die tweede helfte het Safcol 18 punte (`n doel, `n drie, `n strafdoel en `n skepdoel) opgestapel voor Genadendal in die 70ste minuut oor die doellyn is toe Dawid January `n briljante beweging afgerond het.

“Genadendal het `n sege geruik, maar Safcol se verdediging het gehou om die erg mededingende kragmeting te wen.”

Arendse sê albei spanne se skoppers het gesukkel, maar Safcol het meer geleenthede pale toe gehad en dit tot sy voordeel benut.

“Genadendal sal hom sekerlik self skop omdat hy vier drieë teen drie gedruk het, maar net een kon verdoel.

“Die tuisspan se stut Roderiques Pekeer is as die speler van die wedstryd aangewys. Hy geniet `n buitengewoon goeie seisoen en het Saterdag weer blink vertoon.”

Johnwin Witbooi, Creswill Adonis, Elroy Klaase en January het Genadendal se drieë gedruk. Jade Smith het een verdoel en met `n strafdoel geslaag.

Safcol se tweede span het Genadendal 18-16 en die derde span 14-3 geklop.

moorreesburgSwartland-Weskus

♦ Karel Willemse, die skakelbeampte van Moorreesburg, berig verkeerde besluitneming het Moorreesburg (Samoa) op Velddrif duur te staan gekom. Velddrift het die dramatiese kragmeting met 23-22 gewen (rustyd 6-9).

“Vir Velddrif was dit ‘n goeie oorwinning, aangesien hy diep in die tweede helfte met slegs 13 spelers moes klaarkom. Met goeie verdediging in dié tyd het hy die besoekers van sy doellyn weggehou.

“Die wedstryd het in `n vinnige tempo afgesit, met Velddrif wat al die aanvalswerk gedoen het. Samoa het stelsematig die aanslag afgeweer en met goeie kort aangeë tussen die voorspelers die teenstanders op die verdediging laat skarrel.

In die eerste helfte het Tiaan Lesch van Samoa, met drie strafskoppe geslaag en Velddrif het twee tussen die pale deur geklits.”

Willemse sê Velddrift het die eerste drie gaan druk nadat Samoa se ou probleem, om nie die bal van die inskop af te beheer nie, weer kop uitgesteek het.

“Hoewel die wintersonnetjie skerp in hulle oë was, kan dit nie as `n verskoning aangevoer word nie. Dit het te veel gebeur en sou later tot nog `n drie vir die tuisspan lei.

“Ambrose Barends, die losskakel van Velddrift, het Samoa se vleuels swaar laat leef met hoë skoppe wat tot hul laaste drie gelei het.”

Hy sê Samoa het diep in die tweede helfte alles in die stryd gewerp om `n drie te druk. Die span het eers met drie strafskoppe vlak voor die pale mis gekorrel en toe besluit om tikskoppies te neem wat op niks uitgeloop het nie.

“Toe die haker Anwill Alkaster eindelik die doellyn oorsteek vir `n drie wat deur Lesch verdoel is, was dit feitlik neusie verby. “Velddrift het nog `n speler met `n geel kaart verloor, maar Samoa kon nie die geleentheid verder benut nie.”

Velddrif se tweede span het 32-0 gewen, en Moorreesburg se derde 24-10.

Witzenberg-Sentraal

♦ Kenneth Williams, `n woordvoerder van Newtons (Wellington), het laat weet dié span stoomroller voort in die streek Witzenberg-Sentraal van die Grootuitdaagreeks.

“Newtons het `n skitteroorwinning van 34-17 oor Wolseley op Newtonpark behaal.

“Soos gewoonlik het Newton met hoërisikorugby weggespring, maar die besoekers het goeie rekenskap van hulself gegee deur die eerste 20 minute klipharde teenstand te bied.

“Newton se gevaarlike agterlyn het die skare op sy voete gehad met goed berekende aangeë en hardlooplyne wat rugbykenners na hul asems laat snak het.”

Williams sê Newtons het eerste bloed geruik met `n strafskop deur Desti Davids (heelagter) wat deurentyd met gevaarlike teenaanvalle vorendag gekom het, maar eenvoudig nie die belangrike aangee in goeie hande kon besorg nie.

“Drieë deur die windhond Christopher Mowers (vleuel) en Jason Baardman (slot) het Newtons 24-3 laat voor loop.

“Voorlangs het Caben Pietersen saam met sy spanmaats vir Wolseley laat kreun en die teenstanders telkemale met kragtige skrumwerk in die grond geboor, en met aggresiewe inklimspel voor hulle weggevee.”

Williams sê daar het in die tweede helfte weer `n effense insinking gekom en toe Newtons hom kom kry, was die telling 24-17. “Ná `n paar veranderinge deur die afrigspan was daar skielik nuwe vuur in die span en drieë deur Dyllan Beukes en Jaquin Ruthford het finaal Wolseley se doppie geklink.

“Dit is Newtons se hantering en die vaart waarteen gespeel word wat almal tans in vervoering het.

“Die span sal egter moet aandag gee aan sy lynstaanwerk wat by tye baie slordig was en hy onverskoonbaar sy ingooie verloor het.

Williams sê Newtons is besig om in `n hegte eenheid te onwikkel en gevaar vir die ander spanne te voorspel.

“In die voorhoede het Baardman sy hart uitgespeel en agterlangs het Davids, Beukes (senter) en Mowers die skare behoorlik waarde vir hul geld gegee met hulle uithalerspel en hulle kanniedood-ingesteldheid.”

Newtons se volgende wedstryd is 7 Mei teen Bella Vista (Ceres).

McGreggor-logoStreekuitdaagbeker

BreëLangeberg

♦ Die Bolandse Streekuitdaag-kampioen, McGregor, het sy gesag bevestig toe hy Montagu, die voorloper in die streek BreëLangeberg, 12-10 op McGregor geklop het.

Clement Hamilton, die titelhouer se woordvoerder, sê albei spanne was goed voorberei, het goeie aanvallende rugby gespeel en verbete verdedig om te wys hoekom hulle tussen die topdrie is.

“McGregor het eerste punte aanteken met `n goeie agterlynbeweging wat Keenin Abrahams met `n drie in die hoek afgerond het (5-0).

“Montagu het met verskeie aanslae gekom, maar McGregor se verdediging was stampvas. Montagu het met `n strafskop van net buite die kwartgebied geslaag (5-3). Die verdediging aan albei kante het gehou en dit was al punte voor rustyd,” laat weet Hamilton.

“Met 12 minute speeltyd oor het Montagu `n los bal deurgeskop, oorgeduik vir sy eerste drie en dit verdoel (5-10). Dit was die enigste keer dat hy in die naelbytstryd voorgeloop het.

“McGregor het uit alle hoeke van die veld aangeval en verskeie deurbrake gemaak.

“Drie minute voor die einde het die losskakel, Elando Fortuin, `n gaping vir die flank Shalfrino Pieters geskep. Hy het twee man afgestamp om die bal onder die pale neer te sit. Abrael van Rooi het dit verdoel om McGregor 12-10 te laat wen.”

Fortuin, Granville Davids, Gavin Arendorff en die vaste vyf, wat puik geskrum het, was die uitblinkers in `n span wat `n ieder en `n elk sy beste gegee het, sê Hamilton.

riebeeck unitedSentraal

♦ Heinrich Heynse, `n woordvoerder van Riebeek United, berig die klub het die gunsteling en voorloper in die streek Sentraal, Porterville, sy eerste pak slae vanjaar gegee deur die besoekers 21-15 te klop.

Riebeek is tans vierde op die punteleer.

Heynse sê die spanne het mekaar van meet af aan behoorlik getakel in `n baie fisieke wedstryd.

“Porterville het met sy gedugte pak voorspelers gekom om Riebeek uit te oorlê. Die tuisspan, daarenteen, het die wedstryd laat vloei en die bal die praatwerk laat doen.

“Dit was dus `n wedstryd vir die voorspelers, waar Porterville se gedugte agttal nie met Riebeek se vlugvoetige voorhoede kon tred hou nie.”

Heynse sê Jemore Booysen (losvoorspeler) van Riebeek United het deurgaans die bal met mening gedra. Sy verdediging was skerp en hy het vinnig gaan dek waar nodig. Hy het `n hand in twee van die drieë gehad waar hy die lyn met mening gebreek het, en het self `n skitterdrie gedruk.

Lorenzo Lameyer en die kaptein, Jeffton Appolis, het Riebeek se ander twee drieë gedruk.

♦ Saron het Good Hopes (Riebeek-Wes) 26-24 op Saron geklop; Saron II het 13-3 gewen; en Good Hopes III 15-3.

Allan van Rooy, `n woordvoerder van Saron, sê sy span se sege is aan sy goeie verdediging te danke.

Gartwill Maarman, Gregory May en Ryno van Wyk het vir die wenspan uitgeblink.

Saron se drieë is deur Marlon Barron, Garth Hendricks en Ryno Ontong (twee) gedruk. Conroy Witbooi het drie verdoel.

majesticslogoGemeenskapskild

Noordweste

♦ In die reeks om die Gemeenskapskild in die streek Noordweste het die skildhouer, Majestics van Citrusdal, die Rooi Tiere 73-7 verniel.

Johan Muller, die voorsitter van Majestics, sê die wedstryd is deur heelwat hanteer- en besluitnemingsfoute gekenmerk.

“Hoewel die wedstryd gewen is deur `n span wat oorheers het, was daar min sprake van korrekte rugby. Die wedstryd kon nie regtig ritme kry nie. Majestics het eenvoudig gewen omdat die twee spanne nie op dieselfde vlak van deelname is nie.”

Tyron Fortuin het vier drieë gedruk (20 punte); Keenith Dirks en Brandon Tieties het elk 13 punte met `n drie en vier doelskoppe behaal; Fabien Loff se drie en doelskop het sewe opgelewer; en Abraham Titus, Bjorn Fransman, Robin Adams en Juandré Muller het elk `n drie gedruk.

Eerste Liga

SwartWeskus

♦ Porterville United het die derby teen sy dorpsgenoot Young Happy Stars in die Bolandse Eerste Liga 32-14 gewen.

Pieter Swarts, `n woordvoerder van Porterville, sê die wenspan het goed saamgespeel en die manne van die bank af het ook hul kant gebring.

Ethean Ludick was die speler van die wedstryd, maar veral die agsteman, Herbert Cleophas, het ook uitgeblink. Taswin Gouws en Clifford Gouws het eweneens die oog gevang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.