Bolandliga: Porterville kry nuwe lewe

Porterville United speel vanjaar met ʼn nuwe gees en die klub se samespel is uitstekend.

Só sê Pieter Swarts, die woordvoerder van die klub, ná sy oorwinning van 27-20 Saterdag weg van die huis af oor Sinith Eagles van Clanwilliam in die Bolandse Rugbyunie (BRU) se Eerste Liga (SwartWeskusstreek).

Die klub het dusver al ses sy ligawedstryde met ʼn bonuspunt elk gewen.

Swarts sê Porterville het die wedstryd voorlangs oorheers, met die kaptein, Janneman Basson, aan die voorpunt nadat hy drie wedstryde weens ʼn besering misgeloop het.

“Die losvoorspelers Dustin Ockhuis, André Hendriks (flanke) en Christo Gouws (agsteman) was op hul beste, veral op die verdedeging, want die tuisspan het aanmekaar aangeval.

“Ryno Andreas was uitmuntend in die middeveld, saam met Bradley Davids wat later met ʼn besering die veld moes verlaat. Eersgenoemde is met ʼn mooi drie beloon.”

Naas Andreas s’n en ʼn strafdrie het Clifford Gouws, Basson en Hendriks Porterville se drieë gedruk.

ʼn Sterk wind het skoppe pale toe bemoeilik, en die losskakel, Jeremy Carolus, kon net een drie verdoel.

Hendriks was die speler van die wedstryd.

WP-liga

♦ Die Maties het die Victoriane met 56-10 gelooi in hul kragmeting Donderdag in die Westelike Provinsie se Superliga A.

As gevolg van die reeks om die Varsitybeker was dit Stellenbosch se keurbende se eerste ligawedstryd vanjaar.

Die Universiteit van Kaapstad het die Universiteit van Wes-Kaapland met 27-22 getroef in sy eerste sege in vanjaar se reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.