Bolandliga: Robertson, Ashton sorg vir riller

Robertson en Ashton United het Saterdag op Ashton vir ʼn rillerstryd in die streek BreëLangeberg van die Bolandse reeks om die Grootuitdaagbeker gesorg.

Eersgenoemde het op die ou end sy onoorwonne status behou deur die kragmeting met 41-40 te wen. Dis Ashton se eerste slae dié seisoen.

Lionel Hendricks, Robertson se spanbestuurder, sê die feit dat albei spane voor die wedstryd onoorwonne was, het ʼn baie groot skare gelok, en dié het gewis waarde vir sy geld gekry met die skouspelagtige rugby wat opgelewer is.

“Die telbord het deurentyd wipplank gery, met altwee spanne wat enduit geweier het om tou op te gooi.

“Robertson het verras deur United se swaar agttal veral in die skrums te laat les opsê, en selfs ʼn vaskop te haak.

“Agterlangs was dit ʼn baie gelykop stryd met die kaptein, Johan Stefanus, Navan Padiachy en Gavin Adendorf wat Ashton heeltyd besig gehou het.”

Kaalmeyer sonder Juandré Josefh en David Wagenaar in die Ashton-span uit omdat hulle deurgaans gevaarlik op die aanval was, en knap verdedig het.

Moet homself skop

“Ashton United moet homself egter skop omdat hy hierdie een deur sy vingers laat glip het, en die grootste gedeelte van die wedstryd met 14 man moes speel nadat sy haker vroeg in die wedstryd met ʼn rooikaart weens ongeoorloofde spel afgestuur is.

“Robertson geniet eerskomende naweek ʼn blaaskans, terwyl Ashton die enigste ander onoorwonne span en die voorloper op die punteleer, Villagers, op Worcester moet gaan aandurf.”

Padiachy (twee), Steven Johnson, Lorenzo Baardman, Stefanus en Aderndorf het Robertson se drieë gedruk. Collin Willemse het vier verdoel en met ʼn strafdoel geslaag.

Vir Ashton het Zinzan Williams, Nathaniel Schericka, Nevin Lukas, Josefh, Adriaan de Vos en Nahim Juries driee gedruk, waarvan vyf deur Wagenaar verdoel is.

Lionel Wanza van Ceres onderweg na sy tweede drie teen Wolseley. (Foto: Gaby Kaalmeyer)

♦ In die streek WitSentraal moes Ceres op sy tuisveld diep delf om met 43-18 met ʼn begeesterde Wolseley af te reken, berig Gaby Kaalmeyer, die mediaskakelman van die wenspan.

“Dit was ʼn wedstryd wat nie regtig aan die verwagtinge voldoen het nie.

“Ceres het eerste bloed geruik toe Jakobus Philander gaan druk en William van Wyk met die doelskop geslaag het (7-0).

“Nog ʼn drie het gevolg toe Francois Basson die bal van ʼn skrum af opgetel en onder die pale gaan druk het. Van Wyk het weer verdoel (14-0).

“Wolseley het sy rekening met ʼn strafdoel geopen (14-3) en die laaste sê voor rustyd met ʼn verdoelde drie gehad (rustyd 14-10),” laat weet Kaalmeyer.

“Ceres het sy derde drie ná die waterdrinkery gedruk, toe Oscar Isaacs oor die doellyn is. Van Wyk het weer geen fout gemaak nie (21-10).

“Wolseley het momentum begin kry, maar Ceres se verdediging was ondeurdringbaar, en die besoekers moes met ʼn strafdoel tevrede wees (21-13).”

Hy sê Ceres het begin sukkel, en die afrigter, Hilton Seroot, het die bankspelers begin opstuur.

Goeie aanvallende rugby

“Die tuisspan het weer goeie aanvallende rugby opgedis, en Lionel Wanza het in die hoek gaan druk. Dié keer het Van Wyk misgekorrel (26-13).

“Wolseley het ʼn losbal opgetel en gaan druk (26-18).

“Ná nog ʼn paar goeie lopies is Ceres met nog ʼn drie beloon toe die kragman Hardus van Heerden links van die pale oor die doellyn is, vir Van Wyk om te verdoel (33-18).

“Ceres het die bal in die stadium lekker rond gegooi en gate in Wolseley se verdediging gehardloop. Waza het sy tweede drie gaan druk (38-18) en Damion Vermeulen is vir oulaas oor die doellyn (43-18).

♦ Streekuitdaagbeker

♦ Desmond de Wiit, die woordvoerder van Môrester, laat weet Koos Letaba het goeie werk in die agttal verrig in sy span se wedstryd in die Streekuitdaagreeks (Witzenberg) teen Villagers Breërivier.

Rayno Grobbler het ʼn drie gedruk en Le-Marco Rooi het dit verdoel.

Vir die tweede span het Le Marco Grobbler tussen die voorspelers uitgeblink, en Ebrahim Ockhuys en Frederick Strauss het met hul dissipline beïndruk.

Jeronovan Claasen het die span se drie gedruk en Daylan Rooi het dit verdoel.

Gemeenskapskild

♦ Jamie Lee Pieterse, die sekretaresse van Overhex, berig die klub het albei sy wedstryde teen Klipdrift in die reeks om die Gemeenskapskild (BreëLangeberg) gewen.

Die eerste span was met 36-17 baas en die tweede met 18-11.

Pieterse sê die seges is te danke aan spanwerk en goeie kommunikasie tussen spelers.

In die eerste span het Reduwaan Williams gesorg dat die spel vloei. Hy het die veld vol gespeel en was deurgaans aan die voorpunt om die teenstanders die stryd aan te sê.

Hy, Josh May, Wayne May (twee), Andy Swarts en Jadian Williams het Overhex se drieë gedruk. Shandre Moloi het drie verdoel.

Kenneth-Ray Appollis het 13 van die tweede span se punte met ʼn drie, ʼn doelskop en twee strafdoele aangeteken. Jadian Williams het ʼn drie bygevoeg.

Eerste Liga

♦ Pieter Swarts van Porterville United het laat weet Young Eagles van Citrusdal het nie opgedaag vir hul wedstryd in die Eerste Liga (SwartWeskus) nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae