Bolandliga: Samoa leer les in ondersteuning

moorreesburgDarling het Moorreesburg (Samoa) Saterdag `n les in ondersteuning geleer in hul kragmeting in die streek SwartWeskus van die Bolandse Grootuitdaagreeks.

Hy het die besoekers op sy tuisveld 27-0 afgeransel (rustyd 10-0).

Karel Willemse, die skakelman van Moorreesburg, sê die gebrek aan ondersteunende spel deur Moorreesburg is duidelik blootgelê en die telbord gee nie die korrekte weergawe van die kragmeting nie.

“Van die afskop af het die tuisspan Samoa op die agtervoet gehad en die een aanval ná die ander van stapel laat loop. Dertig minute lank het Samoa rotsvas verdedig om Darling van hulle doellyn af weg te hou. Hier tydens het die tuisspan met vier strafskoppe misluk.

“Met die gebrek aan goeie balbesit en die druk van die aanhoudende verdediging op die besoekers was dit bloot `n kwessie van tyd voor die damwal sou breek. Tien minute voor rustyd het Darling die eerste drie gaan druk ná `n goeie agterlynbeweging,” berig Willemse.

“Samoa het manmoedig probeer om ook op die telbord te kom, maar oorywerigheid het veroorsaak dat hy die bal op kritieke tye aan die tuisspan afgestaan het.

“Met die bietjie balbesit wat die besoekers meestal onder groot druk gekry het, het ongedwonge foute ingesluip. Maar die groot probleem was wanneer Samoa se spelbrekers Carlo Mentoor, Ruan van Rooy en Euwin Presens gate in Darling se verdediging geslaan het, kon die ondersteuning eenvoudig nie betyds bykom om die bewegings af te rond nie. Dit het telkens omkeerbesit aan Darling besorg.

“Om verder sout in Samoa se wonde te vryf, het hy die bal te veel in die kontaksituasies verloor.”

Willemse sê Darling het kort voor rustyd `n tweede keer munt geslaan uit `n bal wat uit `n laagvat losgespat het, en Samoa het die prys betaal. (Rustyd 10-0.)

“In die tweede helfte het Samoa manmoedig probeer en daar was vier geleenthede vir hulle om Darling se doellyn oor te steek, maar oorgretigheid het daartoe gelei dat die geleenthede verlore gaan.

“Darling het nog twee doele en `n strafdoel aangeteken om die eindtelling op 27-0 te staan te bring.”

Willemse sê Samoa het egter nie nodig om in sak en as te sit nie.

“Daar het meer positiewe dinge uit die wedstryd gekom. Die span se verdediging was baie beter as in vorige kragmetings. Dit was eerder uit die gebroke spel waar sy afronding hom lelik in die steek gelaat het.”

Gold Stars se wenspan teen die Zebras.

Gold Stars se wenspan teen die Zebras.

Gemeenskapskild

♦ Gold Stars het Zebras 17-6 in die Overbergstreek van die reeks om die Gemeenskapskild geklop. Sy tweede span het 3-0 gewen.

Christiaan Swanepoel, `n woordvoerder van Gold Stars, laat weet albei die wenspan se drieë is deur die linkervleuel, Joshua Steenberg, aangeteken en hy is as een van die spelers van die wedstryd aangewys. Die ander een was die heelagter, Jeffrey Erasmus, wat `n strafdoel behaal het.

Swanepoel sê dit was `n baie fisieke derby-wedstryd tussen twee buurspanne wat mekaar goed ken en dis `n genade dat daar nie ernstige beserings was nie.

“Oor die algemeen het albei spanne volop vonk aan die dag gelê, maar op die ou end het die tuisspan, Gold Stars, die laaste gelag.”

Christiaan Mouwers druk sy tweede drie vir Tesselaarsdal teen Young Stars. (Foto: Chey-Anne Avontuur)

Christiaan Mouwers druk sy tweede drie vir Tesselaarsdal teen Young Stars. (Foto: Chey-Anne Avontuur)

Eerste Liga

♦ In die Eerste Liga het Tesselaarsdal 15-10 met Young Stars afgereken.

Marcel Arendse, `n woordvoerder van Tesselaarsdal, sê die span se voorspelers het die oorwinning verseker met `n goeie voorraad gesonde balbesit.

“Hulle het Young Stars se voorosse laat les opsê,” het hy Pale Toe! laat weet.

“Vanweë `n sterk wind is die bal grootliks onder die voorspelers gehou en het die agterlyne min daarvan gesien.”

Tesselaarsdal se agsteman Christiaan Mouers het twee drieë gedruk en is as die speler van die wedstryd bekroon.

“Hy het `n goeie dag op kantoor gehad: die teenstanders se balle in die lynstane afgeneem; skitterend verdedig; sterk met die bal gehardloop; en verskeie kere omkeerbesit bewerkstellig,” sê Arendse.

Peter Augus het Tessies se ander drie gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.