Bolandliga: Samoa sit segetog voort

moorreesburgMoorreesburg (Samoa) het Saterdag op sy tuisveld sy segetog voortgesit toe hy Mamre 32-24 in die Bolandse Rugbyunie (BRU) se reeks om die Grootuitdaagbeker geklop het (rustyd 7-7).

Karel Willemse, Moorreesburg se segsman, sê die kragmeting het heelwat sprankelrugby opgelewer.

“Die toeskouers moes tot diep in die eerste helfte wag vir die eerste drie en dit was die tuisspan wat die telbord aan die gang gekry het nadat die twee spanne mekaar deeglik opgesom het.

‘Samoa se senter Moegamat Kippie het `n goeie lopie deur die vleuel Warren Kayster afgerond vir die eerste drie. Tiaan Lesch verdoel is.

“Mamre het vinnig met `n doel teruggeslaan en verdien `n pluimpie vir die manier waarop hulle die bal die werk laat doen het,” berig Willemse.

“Samoa se blitsoorlog het kort ná die aanvang van die tweede helfte gevolg en hy het drie keer agter die teenstander se doellyn gaan kuier.”

Hy sê Anthony Jacobs was die eerste om `n beweging af te rond, nadat Mitchell Jacobs (losskakel) twee keer hanteer het.

“Jacobs was een van die spelers wat `n goeie wedstryd beleef het, so ook sy skakelmaat, Flippie Jacobs.

“Heinrich Manuel het met `n goedberekende grondskop, wat deur Lesch toegeval is, verder sout in Mamre se wonde gevryf.

“Kort hierna  het Jacobs vir Janiel Carolus vir `n drie oorgestuur.”

Willemse sê Mamre het net ná die tuisspan se bonusdrie met goeie spel teruggeslaan.

“Hulle is met `n strafdoel en twee doele beloon.

“Lesch het geantwoord met `n strafdoel om die tuisspan se neus voor te hou, en in die doodsnikke het Kippie sy tweede drie ná ‘n goeie agterlynbeweging gedruk.”

Willemse sê oorywerigheid en besluitloosheid naby die teenstanders se doellyn het veroorsaak dat Samoa punte weggegooi het. Die bal spat ook nog te veel los ná ‘n laagvat, en die bal word nie voldoende beskerm nie.

“Jorim Mitchell het een van sy beste vertonings gelewer en sy stutmaat, Juan van Neel, vul hom goed aan met sy werkvermoë by die afbreekpunte.

“Leonardo Linnert, die lenige slot van die tuisspan, het sy kwota balle in die lynstane gevat en met sy spel in die ander fasette is hy een van die steunpilare van die span.

“Agterlangs lyk die agterspelers ook baie beter,” het Willemse laat weet.

Moorreesburg se tweede span het 20-10 en die derde span 13-8 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.