Die spanne in die halfeindstryde van die Bolandse klubligas Saterdag is wyd oor die bond versprei en geen enkele streek het meer as een klub in `n reeks betrokke nie.
Ondersteuners sal dus van wyd en syd op die Bolandstadion op Wellington toesak, waar die kragmetings om den bloede uitgespook sal word.
Die afgelope Saterdag se uiters mededingende kwarteindronde in die reeks om die Grootuitdaagbeker sal hopelik die toon aangee.
Verlede jaar se wenners van die Grootuitdaagreeks, Villagers Worcester, en van die Streekuitdaagreeks, McGregor, het nie die pyp gerook nie en die twee topbekers moet nuwe base kry.
In die Grootuitdaagreeks betwis Robertson (Breëvallei-Langeberg) en Hawston (Overberg) die een halfeindstryd, en Saldanabaai (Swartland-Weskus) en Roses United (Witzenberg-Sentraal) die ander een.
Wat die Streekuitdaagbeker betref, kom verlede jaar se naaswenner, Langebaan (SwartWeskus), teen Napier (Overberg) te staan; en Invincibles (Noordweste) spook die ander halfeindstryd teen Rawsonville (BreëLangeberg) uit.
Die houer van die Gemeenskapskild, Majestics (Noordweste), sit die verdediging van sy titel teen Greyton (Overberg) voort. Tandfontein (Witzenberg) speel in die ander halfeindstryd teen Rangers De Hoop.
Young Turbo’s (Langeberg), die Eerste Liga-kampioen, meet kragte teen Excelsior (Witzenberg), en Spartans (Sentraal) vat Young Lions (Breëvallei) in die ander halfeindstryd voor die bors.
Toegang kos R20 vir volwassenes en R10 vir leerlinge. Die hekke open 10:30.
Verskeie strate in die woonbuurt rondom die stadion sal van 09:00 af gesluit wees. Openbare parkering sal by Huis Andrew Murray (oorkant die B-veld) beskikbaar wees teen R20 per voertuig.
Die program –
A-veld
Grootuitdaagbeker
15:00 – Robertson teen Hawston
16:30 – Saldanhabaai teen Roses United
Streekuitdaagbeker
12:00 – Langebaan teen Napier
13:30 – Invincibles teen Rawsonville
B-veld
Gemeenskapskild
13:30 – Tandfontein teen Rangers de Hoop
15:00 – Greyton teen Majestics
Eerste Liga
10:30 – Spartans teen Young Lions
12:00 – Excelcior teen Young Turbo’s