Bolandliga skop op oor die honderd plekke af

BOLAND-ama-logoDie Bolandse klubligas skop Saterdag op net oor die honderd plekke af.

Twee en veertig klubs meet in die reeks om die Grootuitdaagbeker kragte, 58 om die Grootuitdaagskild, 56 om die Gemeenskapskild, en 52 in die bond se Eerste Liga.

Slegs `n stuk of dertien klubs het loslootjies.

♦ Op die oog af het verlede jaar se streekwenners Saterdag `n maklike taak wanneer die eerste skote in die reeks om die Grootuitdaagbeker afskop.

In die streek BreëLangeberg speel die bond se kampioen en deelnemer aan vanjaar se nasionale oopklubreeks om die Gemeenskapsbeker, Villagers Worcester, teen Touwpark, wat nie verlede jaar baie goed gevaar het nie.

Die naaswenner, Wesbank van Malmesbury, begin sy seisoen in die streek SwartWeskus teen Velddrif, wat verlede jaar bra gemiddeld vertoon het.

Ook die ander spanne in die halfeindstryde behoort nie te sterk uitgedaag te word nie. Roses United speel in die streek WitSentraal teen Wolseley; en Hawston speel in die streek Overberg teen Botrivier.

♦ McGregor, die Streekuitdaagkampioen, behoort nie te sukkel om Klipdrift in die streek BreëLangeberg te klop nie.

Die ander semifinaliste se taak lyk ook nie te kwaai nie. Rawsonville speel teen Young Good Hopes (BreëLangeberg), Good Hopes teen Dennegeur (Sentraal) en Langebaan – verlede jaar se naaswenner – teen Red Stars (SwartWeskus).

Die vonke kan wel in die Overberg spat waar die streek se topspanne Villiers en Napier kragte meet.

♦ Wat die reeks om die Gemeenskapskild betref, moet `n nuweling in die reeks in die Noordweste die uitdaging te bowe kom om in sy eerste wedstryd teen die kampioen, Majestics van Citrusdal, kragte te meet. Laasgenoemde het boonop verlede jaar slegs een wedstryd verloor.

Die naaswenner, Pumas, sal seker nie sukkel om Try Again onder te sit nie; en die ander spanne in verlede jaar se halfeind, Greyton (teen Elim) en Koringberg (teen Flying Eagles) behoort insgelyks hul wedstryde maklik te wen.

♦ In die Eerste Liga speel verlede jaar se wenner, Young Turbos teen Blues; die naaswenner Ocean United teen Young Warriors; en die ander halfeindspanne, Universals teen Goudini en Rising Stars teen Flying Eagles (Nooitgedacht).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.