Bolandliga: spanne voel-voel mekaar nog

BOLAND-ama-logoIn die Bolandse reeks om die Grootuitdaagbeker voel-voel die spanne mekaar nog soos boksers voor hulle met mening lostrek, maar `n paar wedstryde beloof reeds taai stryde.

♦ Die mededingendste kragmeting in die streek SwartWeskus sal waarskynlik die een tussen St Helenabaai en Vredenburg op eersgenoemde se veld wees.

Die streekkampioen en naaswenner in die Boland verlede jaar, Wesbank van Malmesbury, behoort Moorreesburg op `n drafstap te klop.

Wat die res betref, is Saldanhabaai die gunsteling teen Darling, Abbotsdale teen Mamre, Never Despair teen Hopefield, en Velddrif teen Piketberg.

WitSentraal

♦ Sake sal veel strawwer in die WitSentraalstreek daaraan toe gaan, met veral die kragmeting tussen Wellington en Hillcrest United wat vuurwerk kan oplewer.

Wolseley  en Bella Vista asook Newtons en Delicious beloof insgelyks om mekaar deeglik op te keil.

Roses United en Ceres hoef op hul beurt geesnsins te sukkel om onderskeidelik Tulbagh en Evergreen Paarl deeglik af te stof nie.

Overberg

♦ In die Overberg is dit Safcol en Grabouw wat mekaar mooi voor die bors kan vat, maar vir die res is sake redelik voorspelbaar.

Standards behoort vir Black Leaves te klop, Genadendal vir Kleinmond, Caledon vir Atlantics, en Hawston vir Rangers Bredasdorp.

BreëLangeberg

♦ Vir die Bolandse kampioen, Villagers Worcester, behoort sy besoek aan Protea in die streek BreëLangeberg `n piekniekuitstappie te wees.

Villagers Montagu en Ashton United behoort die kwaaiste gespook in die streek af te gee, maar Rangers Robertson en Bonnievale United beloof eweneens `n redelike gelykop stryd op te lewer. Dieselfde geld vir Blue Birds teen Robertson.

Worcester Perseverance behoort Touwpark te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.