Bolandliga: swak lakwerk laat Saldanha ver wen

moorreesburgSwak lakwerk aan die kant van die tuisspan was grotendeels daarvoor verantwoordelik dat Saldanha Saterdag `n wegholoorwinning van 36-13 op Moorreesburg in die Bolandse Grootuitdaagliga behaal het.

Tot en met rustyd het die twee spanne goed teen mekaar opgeweeg, berig Karel Willemse, Moorreesburg se skakelman. Die telling was 8-8.

“Saldanha se swak hanteerwerk in die eerste helfte het Samoa in die kragmeting gehou.

“Julian Gous Claasen het die tuisspan vroeg in die eerste helfte met `n strafdoel laat voorloop. Saldanha het die telling gelyk gemaak, eweneens met `n strafskop, en het kort daarna verder voorgeloop ná `n drie in die hoek.

“Moorreesburg het verbete teruggeveg en kort voor rustyd is Ruan van Rooy oor vir `n drie.”

Willemse sê dit was kort ná die hervatting duidelik Saldanha sy aangeewerk heelwat opgeskerp het, en Samoa se verdedigers was eenvodig nie meer bereid om hul lywe op die spel te plaas nie.

“Dit het gapings in die middelveld veroorsaak en Saldanha kon na hartelus kruis en dwars oor die veld nael.

“In dié tyd het die besoekers behoorlik die krane oopgedraai en twee vinnige doele aangeteken. Op 22-8 was dit duidelik dat die tuisspan nie al die antwoorde op die ligavoorlopers se aanslag het nie.

“Met rukke het Flippie Jacobs en Jovan Willemse probeer om die tuisspan weer in die prentjie te kry, maar die swaarder voorspelers van die besoekers het elke beweging vining in die kiem gesmoor.

“Diep in die tweede helfte het die heelagter Mitchell Jacobs vir die tuisspan oorgegaan vir ‘n drie. “Saldanha het nog twee doele aangeteken voor die eindfluitjie `n einde aan die middag se kragmeting gebring het.”

Willemse sê Samoa het soms erg planloos vertoon en die spelers sal ná dié week se loslootjie hulle moet regruk vir die volgende kragmeting teen Wesbank.

Ander uitslae –

Saldanha II 24, Moorreesburg II 23; Saldanha III 13, Moorreesburg III 12.

(Klubbesture landwyd word genooi om bondige wedstrydverslae Maandae voor 11:00 vir publikasie aanPale Toe! by [email protected] te stuur.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.