Bolandliga: vars benadering dra vrug

William Basson - drieplesier.

William Basson – drieplesier.

`n Vars benadering ten opsigte van afrigting dra vanjaar vrug vir Montagu.

Halfpad deur die liga loop die klub kop aan kop met Rawsonville United in die Bolandse Rugbyunie se Streekuitdaagreeks in die streek Breërivier-Langeberg.

Riccardo Muller, Montagu se voorsitter, skryf die klub se sukses nie net aan opgeskerpte dissipline toe nie, maar veral aan die afrigters, Brendon Baartman en Reginald Joseph, se benadering wat hemelsbreed van verlede jaar s’n verskil.

Veral vyf spelers munt dusver die seisoen uit.

Christiaan de Kocker (flank) doen reusewerk in die los. Enrico Julies beleef ook `n goeie seisoen en veral sy lynstaanspel besorg die ander spanne hoofbrekens.

Hulle word goed aangevul deur Cleve Malgas (senter/heelagter), Clinton Khana (stut) en Elzano Khana (haker).

Eerste Liga

In die Eerste Liga het albei Tesselaarsdal se spanne Saterdag met Protem afgereken, Die eerste span het 14-10 en die tweede 15-7 gewen.

Marcel Arendse, die woordvoerder van Tessies, sê ongeag die twee oorwinnings het die wenspan verskeie foute began wat voor die volgende wedstryd uitgestryk moet word.

Tesselaarsdal val teen Protem aan.

Tesselaarsdal val teen Protem aan.

“Tesselaarsdal se vleuel, Jeremy October, wat later skrumskakel toe moes skuif, is as die speler van die wedstryd gekroon vir sy puik vertoning in albei posisies.

“William Basson se wendrie was `n juweel. Hy is boonop op 44 die klub se oudste speler.”

Arends sê daar is slegs een besering in die wedstryd opgedoen. Jamiel Janecke, Tesselaarsdal se haker, het ligamente in sy knie beseer en die klub hoop hy herstel gou.

Sowel Tessies as Protem het twee drieë in die eersterspanwedstryd gedruk.

Christiaan Mouwers en Basson het die eerste span se drieë gedruk, en Marcel Arendse en Franklin Louis (plaasvervanger) het dit verdoel.

Wilbur Stewart en Delvin Smal het vir die tweede span gedruk, en Louis het met `n doelskop en `n strafdoel geslaag.

(Klubbesture word genooi om bondige wedstrydverslae Maandae voor 11:00 vir publikasie aan Pale Toe! by [email protected] te stuur.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.