Bolandse Kavaliers kry nuwe kaptein

Zandre Jordaan (Foto: BRU/Gallo Images)

Die Bolandse Kavaliers kry ʼn nuwe kaptein vir die 2017-seisoen.

Luidens ʼn verklaring wat in Wellington uitgereik is, is die losvoorspeler Zandré Jordaan aangewys as die Boland Kavaliers se kaptein vir die 2017-rugbyseisoen.

Hy volg die senter Ryan Nell op wat die span verlede jaar baie suksesvol gelei het, maar vanjaar vir die Pumas sal uitdraf.
Jordaan, afkomstig van Vredenburg , het sy buiging vir die Kavaliers in 2009 gemaak, en is met 94 wedstryde agter sy naam een van Boland se mees ervare spelers.

Randall Modiba, die hoofafrigter van die Kavaliers, sê die keuse was voor die hand liggend.

“Zandré is op en van die veld af ʼn sterk leier, en het hom uit die staanspoor vereenselwig met die afrigtingspan se visie vir die seisoen. My lang verbintenis met Zandré het die keuse vergemaklik, omdat ek bewus is wat hy as kaptein kan bied. Hy verstaan die Kavaliers-tradisie en Bolandse kultuur goed.”

Frederick Muller en Wayne Wilschut sal as gesamentlike onderkapteins Jordaan bystaan.

Muller is ʼn gewese Bolandse Cravenweek-kaptein en het verskeie ander spanne gelei, wat hy oor die jare verteenwoordig het.

Wilschut het Worcester Villagers, ʼn meermalige Bolandse klubkampioen en deelnemer aan die reeks om die Goue Beker, vier jaar lank aangevoer, en is eweneens ʼn produk van Boland se klubstrukture. Hy is die afgelope drie seisoene deel van die Kavaliers-opset.

Modiba sê al drie spelers is natuurlike leiers, en hul vaardighede as kapteins het op verskeie vlakke oortuig.

“Hulle het die karaktereienskappe van goeie leiers, en geniet die respek van hul spanmaats.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.