Bonuspunt is `n moet vir Bokke

Bakkies Botha Springbok`n Bonuspunt-sege moet bo-aan die Springbokke se agenda wees wanneer hulle die Poemas Saterdag in Pretoria die stryd aansê. Die Argentyne wil ook hardloop, en dit kan beteken dat `n puik toets op ons wag.

Heyneke Meyer het dit duidelik gestel dat sy span wil voortgaan op die patroon wat lewe help gee is deur die briljante Willie le Roux, en dat vinnige balle aan die agterlyn `n vereiste is. `n Mens hoop Ruan Pienaar het ook geluister en dat hy daartoe in staat is.

Met Handré Pollard, twee blitsige vleuels en die kwiksilwer Le Roux op heelagter is die onus ook op die middelveld – waar Damian de Allende sy langverwagte buiging maak – om oor die voordeellyn te kom en die bal te versprei.

Om dit reg te kry gaan natuurlik ook baie van die voorspelers afhang, wat die Poemas moet aanvat waar hulle op hul sterkste is. Daar sal in die lynstane ook `n onus op Bakkies Botha en Lood de Jager rus om Victor Matfield se plek vol te staan. Gelukkig kan Duane Vermeulen en Willem Alberts vir hulle tot groot hulp wees.

“Ons het `n studie van hul lynstane gemaak, maar dis moeilik omdat al hul roepe in Spaans is,” het Johan van Graan voor die toets gesê.

“Ons het baie respek vir die Poemas. Hulle het `n hele paar spelers van wêreldklas, soos Lobbe (flank). Ek het die loskop, Marcos Ayeza, by Leicester sien speel en hy is straks die wêreld se beste opteller in die lynstane.”

Die span wat drieë druk het natuurlik die beste kans op bonuspunte, en bonuspunte beteken `n beter kans om die Rugbykampioenskap te wen.

“Ons het verlede jaar een of twee kanse op bonuspunte verspeel en dit het uiteindelik teen ons getel,” het Heyneker Meyer gesê.

“Jy wil nie probeer om in die laaste twee wedstryde in te haal nie, daarom moet ons elke wedstryd wen en elke enkele punt insamel. Ons wil Saterdag net die beste rugby speel waartoe ons in staat is, en die telbord sal vir homself sorg.”

`n Oorwinning vir die Bokke is op die kaarte, maar dit gaan saak maak hóé hulle wen – nie net wat bonuspunte betref nie, maar ook hul algemene spelpeil en die selfvertroue wat daarmee saamkom.

Die spanne is:

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Damian de Allende, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Willem Alberts, 6 Francois Louw, 5 Lodewyk de Jager, 4 Bakkies Botha, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Tendai Mtawarira.

Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Trevor Nyakane, 18 Frans Malherbe, 19 Eben Etzebeth, 20 Marcell Coetzee, 21 Francois Hougaard, 22 Morné Steyn, 23 Jan Serfontein.

Argentinië: 15 Joaquín Tuculet, 14 Horacio Agulla, 13 Marcelo Bosch, 12 Juan Martín Hernández, 11 Manuel Montero, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martín Landajo, 8 Juan Manuel Leguizamón, 7 Juan Martín Fernández Lobbe, 6 Pablo Matera, 5 Tomás Lavanini, 4 Mariano Galarza, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustín Creevy (k), 1 Marcos Ayerza.
Bank: 16 Matías Cortese, 17 Lucas Noguera Paz, 18 Nahuel Tetaz Chaparro, 19 Matías Alemanno, 20 Leonardo Senatore, 21 Tomás Cubelli, 22 Santiago González Iglesias, 23 Lucas González Amorosino.

Saterdag 16 Augustus op Loftus Versfeld.

Afskop 17:05

Beamptes

Skeidsregter: John Lacey (Ierland)
Assistente: Steve Walsh (Australië), Marius Mitrea (Italë)
TV: Simon McDowell (Ierland)
 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.