Bonuspunt ontwyk Bokke in sege

Handré Pollard se stelskopwerk was dodelik akkuraat. Foto: Hansie Linde.

Te midde van die logistieke chaos waarin die Rugbykampioenskap gedompel is, het die Springbokke vandag gedoen wat van hulle verwag is en vir Argentinië met 29 – 10 in Gqberha (Port Elizabeth) geklop.

Die Suid-Afrikaners kon egter nie ’n bonuspunt inoes nie en dit kan ’n invloed op hul bekerveldtog hê wanneer die toernooi eendag weer hervat word.

Maar terug na vandag se tweestryd.

Handré Pollard het in die aanloop tot die toets gesê dat die kritiek van oorsese joernaliste en oudspelers die span nie veel pla nie; die Bokke wen toetse met hul verdedigingingesteldheid en soos wat alle sportliefhebbers jou sal vertel: Dit is eintlik lekkerder om te wen as om te verloor.

Die Springbokke se onlangse vertoning in die Rugbykampioenskap sorg juis vir indrukwekkende leesstof: Hulle het in 2019 met die louere weggestap en ná vandag se oorwinning is hulle weer bó op die punteleer.

Tog was die eerste helfte ’n morsige affêre.

Siya Kolisi beur vorentoe. Foto: Hansie Linde.

Die Argentyne het ’n magdom strafskoppe afgestaan en Pollard se skopvoet het die telbord aan die gang vir Suid-Afrika gehou. Maar terselfdertyd kon die Suid-Amerikaners voorspel wat die Bokke op die aanval gaan doen en dit het vir ’n bietjie vervelige (jammer vir die woord) rugby gesorg.

In die tweede helfte het die Suid-Amerikaners met meer ondernemingsgees gespeel en Makazole Mapimpi kon in die 47ste minuut van die wedstryd oor die doellyn duik. ’n Rukkie later het ’n skitterende Malcolm Marx deur die Argentyne se verdediging vir sy span se tweede drie gebars.

En dit is waar die Bokke se driedrukpret gestop het. Die Suid-Afrikaners kon, ten spyte van ’n Argentynse geel kaart of twee, nie daarin slaag om ’n bonuspuntdrie te druk nie.

Ja, dit was hoegenaamd nie die beste rugbywedstryd wat die Springbokke al gespeel het nie; maar ’n wen bly ’n wen. En dit is immers al wat saak maak, of hoe?

  • Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Makazole Mapimpi en Malcolm Marx. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafskoppe: Pollard (5).

Argentinië: Drie: Pablo Matera. Doelskop: Nicolas Sanchez. Strafskop: Domingo Miotti.

  • Rugbykampioenskap-punteleer:
  1. Suid-Afrika 9 punte
  2. Nieu-Seeland 5 punte
  3. Australië geen punte
  4. Argentinië geen punte

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Daar is ‘n game met baie passes en geen tackles. Hulle noem dit basketball. Baie exciting met sommer meer as 200 punte per wedstryd. Gaan kyk dit gerus. Ek bly maar by die stryd tussen regte manne :-)

SjN

Weereens te veel skoppe en te min volle agterlyn bewegings, dit is hoekom daar nie meer driee is nie, spelpatroon is te voorspelbaar.