Borthwick glimlag, maar nie té breed

Steve Bortwick – Engeland se hoofafrigter. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Steve Borthwick mag dalk sy eerste oorwinning as Engeland-hoofafrigter gesmaak het toe die Rose gister Italië met 31 – 14 op Twickenham geklop het, maar hy is steeds nie heeltemal tevrede met sy span se vertoning nie.

Die Engelsmanne het in die tweede helfte vir die Italianers ʼn vastrapplek in die wedstryd gegee en veral Ange Capuozzo het by tye hul verdediging met sy vreeslose dartellopies laat bontstaan.

“Ons is in ʼn herboufase, maar die span het darem nou klein treetjies in die regte rigting gegee,” het Borthwick na afloop van die wedstryd gesê.

Die voormalige Engeland-kaptein het verlede week die wenkbroue laat lig toe hy die skuld vir Engeland se nederlaag teen Skotland in hul openingswedstryd van die Sesnasiesreeks voor Eddie Jones se deur gelê het.

“Daar is steeds dinge waarop ons kan verbeter en ons het hopeloos te veel kanse deur ons vingers laat glip. Ek glo dat ons werk by die afbreekpunte en ons verdediging steeds nie heeltemal op standaard is nie.”

Hy is veral bekommerd oor die twee drieë wat die Rose in die laaste 40 minute van die wedstryd afgestaan het nadat hulle ʼn rustydvoorsprong van 19 – 0 opgebou het.

“Vir die tweede agtereenvolgende week het ons hopeloos te veel geleenthede vir die ander span gegee om punte aan te teken. Ons kon byvoorbeeld die toets teen Skotland gewen het, maar ons het die deur heeltemal te groot vir hulle oopgelaat. Ons sal moet kyk waarom dit gebeur en indringend daarop verbeter.”

Hoewel Engeland met die Italianers afgereken het, weet ʼn mens nie so mooi of ʼn soortgelyke vertoning teen Ierland of Frankryk dieselfde uitslag sal lewer nie.

“Hulle [Frankryk en Ierland] is in die laaste jaar van hul vierjaarplan vir die Wêreldbeker-toernooi. Hulle het vertroue in hul spankeuse terwyl hul spelers oor meer as genoeg ervaring beskik. Ons is beslis nog nie in dieselfde bootjie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.