Bosch en Sharks se pak kelder die Cheetahs

Raymond Rhule – uitblinker vir die Cheetahs (Foto; fscheetaahs.co.a)

Die Sharks het die Cheetahs in Bloemfontein met kragtige voorspelerspel in die tweede helfte oortuigend geklop met goeie verdediging en die jong Curwin Bosch op losskakel wat ook sterk bygedra het tot die oorwinning.

Die Sharks het met 38-30 gewen in ʼn wedstryd wat teen ʼn geweldige tempo afgesit het en uiteindelik sewe drieë opgelewer het.

Die vrystaters was met rustyd 20-15 voor maar kon na rustyd nie daarop voortbou nie. Die Sharks het, nadat die Cheetahs hul voorsprong in die 45ste minuut na 23-15 vergroot het, 23 onbeantwoorde punte aangeteken voordat die Cheetahs ʼn laat drie gedruk het om die telling ʼn bietjie beter te laat lyk.

Daar was aan albei kante talle hanteerfoute en veral die Cheetahs se lekker agterlyn was met die vlak verdediging van die Sharks onder meer druk as wat hulle wou gehad het.

Dat hulle in die losskrums en losgemale boonop tweede viool gespeel het teen ʼn aggressiewe Sharks-voorhoede het verder daartoe bygedra dat die agterlyn se aanvanklike gladde hantering nie volgehou kon word nie. Hier en daar was die verwardheid op die aanval in die laaste kwart opvallend.

Die uitblinker in die Cheetahs se agterlyn was die Springbok Raymond Rhule.

Ja, hy het reeds in 2012 toe hy net 20 was ʼn Bok met Springboknommer 845 geword hoewel hy tydens die toer na die VK nooit op die veld was nie, maar dit was die laaste jaar dat dit met kleure-toekenning gebeur het.

Vanjaar behoort hy darem volwaardig Bok te word. Rhule het werk gesoek, oral opgeduik en help keer, die bal slim lewendig gehou en sy bekende vaart pragtig gebruik. Saam met sy kaptein Swys Venter was hy die uitblink-agterspeler van die Cheetahs.

Voorlangs het die Sharks hoe later hoe meer oorheers. Coenie Oosthuizen het soos ʼn jaar of twee gelede in die los gespook en gedryf, maar was nog nie heeltemal die soort skrumvaskop waarna gesoek word nie.

Vir die Cheetahs was Oupa Mohoje goed met talle duikslae rondom die vaster fasette in ʼn wedstryd waar hy en sy makkers nie veel kans gekry het om die aandag op hulle te vestig nie. Hy het soos in die ander wedstryd goed aangesluit en die bal gedra.

Nou weer iets oor Bosch: hy is net 19 jaar oud, en ʼn speler in die ware sin van die woord. Sy vertoning, dié keer as losskakel, was uitmuntend. Hy het takties goed gespeel, goed uit die hand geskop, die spel goed opgesom en in die wedstryd volgens die TV-kommentators sy 13de agtereenvolgende suksesvolle strafdoel behaal.

Daar is skaafwerk aan Bosch se verdediging nodig, maar dit kan reggestel word – veral as hy ook bietjie lyf begin kry om sy 80 kg aan te vul.

Met hierdie oorwinning het die Sharks nou vier uit vyf gewen terwyl die Cheetahs drie uit vyf verloor het.

Puntemakers –

Cheetahs (20) 30: Drieë: Francois Venter, JW Jonker, Doelskoppe: Fred Zeilinga 3. Strafdoele: Zeilinga.
Sharks (15) 38: Drieë: Lwazi Mvovo, Kobus van Wyk 2, Daniel du Preez. Doelskoppe: Curwin Bosch 3. Strafdoele: Bosch 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dirkie ·

Bosch lyk na die next good thing, maar Ai mense, 4 games en nie een agtereenvolgens in dieselfde posisie nie. Barrett speel nr 10 vir hurricanes en NZ. Natuurlik gaan die seun se hy sal enige plek speel op TV. Die Sharks het Lambie, Frans Steyn, B Russel en Gaffie du Toit se loopbane verongeluk. Hopenlik koop die Leeus of WP hom vroeg voor hy net nog n average speler word.

Dirkie ·

Bosch lyk na die volgende fonds, maar ai tog mense kies die ou in een posisie. Na 4 wedsrtryde speel hy 2 as heelagter en 2 as loskakel. Onthou maar wat het met fondse soos F Steyn, B Russel, G du Toit en selfs Lambie gebeur. Nie een kon regtig die next best thing word nie. Frans Steyn het die wereld beker gewen ja maar hy kon die beste in wereld gewees het. Die Sharks/ Natal het die manier om ons talentevolle spelers op te mors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.