Bosch skitter; omkeerbesit kelder die Bulle

The SharksDie Sharks het die Blou Bulle Saterdag in Durban 26-19 geklop en is nou na vier Curriebekerwedstryde nog onoorwonne en boaan die puntelys.

Die Blou Bulle-afrigter Nollis Marais sal die week seker kopkrap oor wat op Kingspark veral by die afbreekpunte verkeerd geloop het.

Sy span se taktiek met hoë skoppe, die meeste goed geplaas, het die Sharks in die eerste helfte laat rondskarrel. Hulle was voor beter daaraan toe, maar hul afronding was maar eina.

Voordat die hartseerfoute van die Bulle verder genoem word, moet ʼn mens iets sê van Curwin Bosch, die man wat die Sharks deurgetrek het. Hy het 18 punte op elke denkbare manier aangeteken en dikwels van heelagter af lang ente veld vir sy span gewen.

Sy plat skepskop net voor rustyd is later opgevolg met ʼn drie. Boonop het hy met drie strafdoele, insluitende een van bykans 50 meter, en twee doelskoppe geslaag.

Die Bulle het voorlangs die spel beheer en telkemale binne enkele meters van die tuisspan se doellyn met goeie ondersteuning en dryfspel gekom. Toe, agt minute voor rustyd en met die telling 10-6 in die Bulle se guns, het daar ʼn belangrike keerpunte gekom.

Daar is beslis dat Ruan Steenkamp ʼn teenstander deur die 90 grade geneem en nie genoeg gedoen het om hom veilig grond toe te bring nie. In sy geelkaart-afwesigheid het Ruan Botha se verdoelde drie en Bosch se skepskop die telbord na 16-10 in  die Sharks se guns geneem.

Benewens hulle besit wat agt keer omgekeer is, was daar ook in die kontaksituasies te veel hanteerfoute deur die Bulls. Daar was ook by die agterlyn te veel kere bottervingers en die mislukte grondskoppies het ook op een uitsondering na vir hulle gebied en besit gekos.

Die Sharks het meer met die bal probeer hardloop en het in die faset gevaarliker as die Bulle gelyk, maar ook húlle is deur hanteerfoute verhinder om meer uit te rig. Bosch se drie was die uitsondering.

Maar daar moet ook groot krediet aan hulle pak gegee word wat dikwels op die agtervoet besit omgekeer het.

Puntemakers –

Sharks (13) 23: Drieë: Ruan Botha, Curwin Bosch. Doelskoppe: Bosch 3. Doelskoppe; Bosch 2. Skepdoel: Bosch
Blou Bulle (10) 19: drie: Jamba Ulengo. Doelskop: Tian Schoeman. Strafdoele: Schoeman 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.