Botha druk twee keer vir Noorweë

Adriaan Botha (Foto: Facebook)

Die Noorweegse losskakel, Adriaan Botha, het Saterdag twee van sy span se drieë in die Nore se sege in Afdeling 2 Noord van die Rugby Europa-kampioenskap oor Estland gedruk.

Noorweë het die kragmeting in die Bislettstadion, Oslo, Noorweë, met 43-16 gewen om derde uit vyf lande te eindig.

Botha is in Suid-Afrika gebore, maar het sy skool- en universiteitsloopbaan in Sydney, Australië, voltooi.

Sy eerste drie, skaars sewe minute ná die afskop, het gevolg op ’n fopaangee tien meter van die Estlandse doellyn af, en die tweede na vinnige omkeerbesit.

♦ Die Tsjeggiese Republiek het Luxemburg in ʼn wegwedstryd met 33-3 geklop en sy verpligtinge in Afdeling 1 Noord onoorwonne afgesluit.

Die Tsjegge sal nou teen Malta, die wenner van Afdeling 1 Suid, om bevordering tot die reeks om die Rugby Europatrofee uitspeel.

Die gewese Bulls-afrigter Phil Pretorius is pas as die rugbydirekteur van Tsjeggië aangestel, met die opdrag om die land se rugbystruktuur grootliks te herskik en sy krag uit te bou.

♦ Hongarye het Afdeling 2 Noord met ʼn onoorwonne lopie gewen nadat hy Finland in Helsinki met 35-5 verslaan het.

Jaun Mioch (Foto: TERFC)

Die Suid-Afrikaner Jaun Mioch, ʼn oudleerling van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, is Finland se voorspeler- en fiksheid-en-kondisioneringsagfrigter.

Die Finne het vierde in die afdeling geeindig.

♦ In Paphos, Ciprus, het Kroasië die plaaslike Moefflons met 29-27 in Afdeling 1 Suid geklop.

Ciprus se hoofafrigter is Andrew Binikos, wat eweneens die hoofafrigter van die Sharks se rugbyakademie is. Hy het in sy speeldae Ciprus in tien toetse verteenwoordig, en onder meer vir die KZN-klubs College Rovers en UKZN Pietermaritzburg gespeel.

Ciprus het al vier sy wedstryde verloor en is laaste in die afdeling.

♦ Litoue se wegholoorwinning van 52-6 oor Swede plaas hom tweede ná die Tsjegge in Afdeling 1 Noord.

Sy enigste slae in die reeks was ʼn nederlaag van 6-15 teen die wenner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fires ·

Kan die Bokke nie in die liga meeding nie, miskien kan ons dan so af en toe ‘n toets wen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.