Botha-skorsing knou Sharks se feitlik onhaalbare kanse

Ruan Botha – vir drie wedstryde geskors (Foto: Twitter)

Die skorsing van die Sharks se slot Ruan Botha het die reeds baie skraal kanse van sy span om hul Superkwarteind in Suid-Afrika te speel, waarskynlik ʼn laaste knou gegee.

Botha is Maandag vir drie wedstryde geskors nadat hy in die SA A-span se wedstryd teen die Franse Barbarians in die 39ste minuut die trekpas gekry het weens ʼn gevaarlike skouerloop in ʼn losskrum toe hy met ʼn teenstander se kop kontak gemaak het.

Hy is tot 24 Julie geskors en kan dus nie die laaste twee wedstryde van die Sharks, die naweek teen die Bulls en oor twee weke teen die Lions, speel nie. Hy sal ook die uitspeelwedstryd misloop.

Soos sake nou staan is die Sharks in die agste plek van die kwarteindspanne. Hulle is slegs vier ligapunte agter die Highlanders wat nog net teen die Reds moet speel.

Eindig hulle met meer ligapunte as die Highlanders, skuif die Sharks op na sewende plek en speel hulle op Ellispark teen die Lions.

Die Highlanders, selfs tuis, kan dalk, net dalk, teen die wisselvallige Reds vasval. Dan kan die Sharks dit met ʼn wen teen die Bulls óf die Lions regkry. Dit is egter baie onwaarskynlik omdat bonuspunte en punteverskil nog ʼn rol sal speel.

Anders moet hulle albei klop en dit met bonuspunte doen as die Highlanders teen die Reds wen.

Maar daar is nog ‘n kinkel: as die Hurricanes, wat tuis speel, die Crusaders in hulle laaste wedstryd op 15 Julie klop, en die Lions wen die Saterdag teen die Sunwolves en ook op 15 Julie teen die Sharks op Kingspark, is die Johannesburgers eerste op die punteleer.

Dit sal beteken dat die Sharks, al bly hulle na verwagting in die agste plek, tog in Suid-Afrika maar op Ellispark hulle kwarteind sal kan speel.

Volgens die huidige puntestand, sal die kwarteindwedstryde op Vrydag 21 Julie en die Saterdag 22 Julie tussen die onderstaande spanne besleg word. Die Hurricanes en Chiefs, en hoogs onwaarskynlik die Sharks en die Highlanders, kan egter nog plekke ruil, afhangende van die laaste rondes se uitslae.

En wie weet wat die Hurricanes sal regkry teen die Crusaders?

 

Soos dit nou staan (tuisspanne eerste) –

Crusaders vs Sharks
Lions vs Highlanders
Brumbies vs Chiefs
Stormers vs Hurricanes

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Hy het gesoek vir dit dis was openlik moet bly wees dis net 3 wedstryde

Corrie ·

Daar is nie pille vir die optrede. Hoe onkundig kan n mens dan wees…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.