Botham se kleinseun trap in sy voetspore

Sir Ian Botham - sy kleinseun volg nou in sy sportspore (Foto mirror.co.uk)

Sir Ian Botham – sy kleinseun volg nou in sy sportspore (Foto mirror.co.uk)

Wanneer Wêreldrugby se sewestoernooi aanstaande naweek in Wellington, Nieu-Seeland begin, sal Sir Ian Botham se hart met  ʼn punt trek.

Botham, een van die beste veelsydige krieketspelers wat Engeland nog opgelewer het, sal straks nie die toernooi kan bywoon nie, want hy is een van Skysports se televisie-kommentators en die Engelse krieketspan toer nou deur Indië.

Ian was ook ʼn begaafde sokkerspeler, en het in 11 wedstryde vir Scunthorpe United gespeel voordat hy al sy aandag op krieket toegespits het.

Botham se kleinseun, James (18), is Donderdag in Wallis se sewesspan ingesluit.

James, wat flank vir die Cardiff Blues speel, het reeds vir Wallis se o.18-span uitgedraf, maar nou maak hy sy buiging vir Wallis se sewesspan.

James is die seun van Liam Botham,  wat vroeg in sy loopbaan in sy legendariese pa se voetspore op die krieketveld gevolg het.

Liam het vir Hampshire krieket gespeel en in sy debuutwedstryd het hy ondermeer die paaltjie van die gewese Engelse kaptein Mike Gatting platgetrek.

Maar die rugbygogga het gebyt en Liam, wat vleuel vir die Cardiff Blues gespeel het,  is binne ʼn japtrap vir Engeland se o.21-span gekies.

Die Engelse afrigter Clive Woodward het sy talente raakgesien en hom by die nasionale span betrek. Hy het so byna in 2000 teen Harry Viljoen se Bokke gespeel, maar het nooit sy kans op toetsvlak gekry nie.

Hy het in 2003 na rugbyliga oorgeskuif en vir die Leeds Rhinos gespeel voordat ʼn nekbesering hom gedwing het om in 2005 op te hou.

Wanneer Faf du Plessis, die Proteas se krieketkaptein, op die veld stap, is sy pa, Francois, een van sy grootste ondersteuners.

Francois het in die tagtigerjare vir Noord-Transvaal senter gespeel en hoewel Faf op skool saam met AB de Villiers ook op die rugbyveld uitgeblink het, hy krieket verkies.

Rugby en krieket is in Suid-Afrika soos spek en eiers, kerrie en rys.

Maar nog net ses spelers, Alf Richards, Jimmy Sinclair, Biddy Anderson, Albert Powell, Percy Twentyman-Jones en Tony Harris het vir Suid-Afrika rugby en krieket gespeel.  Dit was jare gelede, toe ʼn mens nog die een Saterdag rugby gespeel het en die volgende Saterdag die boulwerk vir jou krieketspan begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Danie Craven het al geglo in n speler se “pedigree”
Kinders word in kompeterende sport omgewing groot indien sy ouers self deelneem. Meeste van hulle swig onder die druk om te presteer so die wat wel hul ouers se prestasies herhaal is werklik begaaf.
As ek reg onthou het Francois du Plessis op vasskop vir Bulle gesak,of is daar nog n naamgenoot gewees?

Milan Bye ·

Faf se pa Francois du Plessis het van 1981-’83 in 33 wedstryde vir Noord-Transvaal senter gespeel, insluitende die Curriebeker-eindstryde in 1982/’83. Sy eindstrydkapteins in die twee verloorwedstryde was onderskeidelik Jan Oberholzer en Burger Geldenhuys.
Francois du Plessis die voorryman het sy 54 wedstryde vir die Ligbloues tussen 1990-’95 gespeel. Hy het in 1991 onder Naas Botha as kaptein in die wen-Curriebekerwedstryd teen Transvaal gespeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.