Bottervinger-Bulle brou; WP spoel Vrystaat weg

Bottervingers het die Blou Bulle in Durban suur te staan gekom, en die Westelike Provinsie (en ʼn wolkbreuk) het die Vrystaat Cheetahs op Nuweland weggespoel.

Die Sharks het die Bulle met 26-10 geklop, en die Streeptruie was met 32-0 baas.

Die Bulle het aanvanklik voorlangs goed gevaar, maar uit die staanspoor die heelwat geleenthede wat hulle geskep het, met swak hanteerwerk ongedaan gemaak. Daar was seker vier of vyf geleenthede waar hul hanteerwerk by groter geduld en dissipline baat sou kon vind, en tot drieë kon gelei het.

Hulle het nie minder nie as 18 hanteerfoute gemaak waarvoor hulle gestraf is, plus nog ʼn paar waaruit die Sharks voordeel kon trek.

Albei spanne het die bal probeer rondgooi, maar die wedstryd was effens struktuurloos.

Goeie keerwerk deur die tuisspan en ʼn paar geleenthede waar die Bulle se voorafbeplande bewegings goed deur die Sharks gelees is, het hulle ondoeltreffend op die aanval gemaak. Dit het ook daartoe bygedra dat Jesse Kriel se kans om sy slag te wys in ʼn poging om weer in die toetsgroep te kom, grootliks verydel is.

Die Sharks se flank Tyler Paul was die speler van die wedstryd.

♦ Op Nuweland, Kaapstad, het die Westelike Provinsie se flank Ruhan Nel ná die toeter gaan druk, om sy span ʼn rustydvoorsprong van 13-0 teen die Vrystaatse Cheetahs te gee nadat SP Marais met die doelskop geslaag het.

Op dié tydstip het ʼn wolkbreuk losgebars en die WP, wat soms verstommend goed gehanteer het, het nóg drie drieë in die gietende reën gedruk.

Die verdedigende kampioen het uiteindelik met 32-0 en ʼn bonuspunt gewen.

SP Marais, die WP-heelagter, wat 12 punte met die skoen behaal het, en as die speler van wedstryd aangewys is, het dit bestempel as die moeilikste omstandighede wat hy nog op die rugbyveld ervaar het.

Die bal het letterlik water met die landing laat spat, die spelers het meters ver gegly en ʼn volgstroom nagelaat wanneer hulle geval het. Oral op die veld was plasse. Die wind was aanvanklik ook baie sterk, met aangeë wat in gevalle twee, drie meter vorentoe gedryf is.

Dis Vrystaat se tweede groot pak in twee wedstryde. Hy lyk planloos sonder gehalte-spelers om dié van verlede jaar, wat weg is (en daar is baie), te vervang. Hy het nou ʼn negatiewe punteverskil van 54, en is heel onder op punteleer.

Die Cheetahs speel aanstaande Saterdag hul eerste wedstryd in die Pro14-reeks in Munster teen Munster.

♦ In Robertson het Boland die Oostelike Provinsie met 70-12 in die Curriebeker- Eerste Liga vermorsel (rustyd 35-5); en in Kemptonpark het die Valke vir Grens met 66-27 opgedreun (rustyd 35-15).

Puntemakers –

Sharks 26 (21) – Drieë: Juan Schoeman, Curwin Bosch, Kobus van Wyk, Aphelele Fassi. Doelskop: Robert du Preez (3).

Blou Bulle 10 (10) – Drie: Jesse Kriel. Doelskop: Manie Libbok. Strafdoel: Manie Libbok.

WP 32 (13) – Drieë: Ruhan Nel, Juarno Augustus, Scarra Ntobeni, JD Schickerling. Doelskoppe: SP Marais (3). Strafdoele: SP Marais (2).

Vrystaat 0 (0).

Boland 70 (35) – Drieë: Gerrit van Wyk, Valentino Wellman (2), Marlyn Williams, Tapiwa Tsomondo (2), Zandré Jordaan (2), Charles Mayeza, Clinton Theron. Doelskoppe: Jaywin Juries (5), Jacquin Jansen (4), Elgar Watts.

OP 12 (5) – Drieë: Zingisa April, Diego Williams. Doelskop: Henrique Olivier.

Valke 66 (35) – Drieë: Andries Schutte, Friedle Olivier (2), Shane Kirkwood, Sikhumbuzo Mabuza, Ernst Ladendorf, Etienne Taljaard (2), Grant Janke, Lundi Ralarala. Doelskoppe: Anrich Richter (5), Warren Potgieter (3).

Grens 27 (15) – Driee: Mihali Mpafi, Carlisle Jordan, Soso Mqalo, Soso Xakalashe. Doelskoppe: Bangi Kobese, Dilolo Mapuko. Strafdoel: Bangi Kobese

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Herman Goosen ·

Ja, die arme patete kan maar net nie leer dat rugby uit spelpatrone bestaan nie. Swak strategie was nog altyd kenmerkend van die Vrystaters en hulle het duidelik geen idee hoe om ‘n wedstryd te wen nie. Dit is ‘n absolute doellose 80 minute van wanhoop, paniek en individuele rondhardloop na nerens. Terug na die swak strategiese dae van Naka Drotske met geen poging tot verbetering nie.

Almal behalwe hulle bestuur en afrigiting kan sien wat fout is. Die Cheetahs het dikwels in hulle geskiedenis goeie spelers en hier en daar goeie afrigters ehad, maar bitter selde goeie bestuur.

Frans C ·

Ek dink jou kritiek teen die Cheetahs is onregverdig.Die span pluk nou die vrugte van SARU se ondeurdagte plan om uitgeskopte superrugbyspanne oorsee in die PRO14
te laat speel.
Geen span kan 12 spelers verloor en dan in die volgende seisoen mededingend wees nie.
Die ouens wat voorstel dat ons in die Noordelike halfrond moet gaan speel praat twak.
Die oorseese spanne is deurgaans in privaatbesit en met die sterk Euro en Pond koop hul net eenvoudig die beste spelers wat daar is.
Om ons spanne in die Noordelike halfrond te laat speel,gaan net oorseese agente Euros en Ponde bespaar,hulle hoef nie hierna toe te vlieg nie,hul werf ons beste spelers daar.

Ons rugby is swak om dieselfde redes dat ons ekonomie swak is.Spelers wat enigsinds
belofte toon, word opgehemel,beland vinnig in die kollig om net so gou te verdwyn.

Chrisn ·

Regruk plan vir Bulle: Bulle moet ontbind. ‘n Hofaansoek om te verbied dat die afrigting bestuurspan en die span nie mag voorgee hul speel rugby. Kan nie meer die gemors hanteer, hulle bring die spel in oneer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.