Brakpan streef na méér as die Goue Beker

brakpan-logo-252x300Brakpan, `n semi-finalis  vanjaar in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker, mik aanstaande seisoen selfs hoër as bloot na dié gesogte stukkie edelmetaal.

Harry Nieuwenhuis, die klub se voorsitter, het aan Pale Toe! gesê die wen van die Goue Beker bly sy (die klub se) hoogste prioriteit, “maar `n klub se sterke word bepaal deur sy ander spanne ook, wat beteken die Panne moet elke beskikbare beker wen wat die Valke-rugbyunie (VRU) het om werklik aanspraak te maak op die titel as die toprugbyklub in Suid-Afrika”.

Hy sê die klub is “sonder om negatief te klink” redelik tevrede met die 2016-seisoen, maar betreffende die peil wat gestel is en die gepaardgaande doelwitte kon die klub nie al die blokkies afmerk nie – en dit bly onaanvaarbaar.

“Brakpan is ons nou al ses jaar lank onoorwonne in die Valkeliga, en het in die reeks om die Goue Beker klaargespeel met Valsbaai en Durban Collegians, die manne van Zimbabwe en Witrivier. Dit beteken ongelukkig uiteindelik niks, en ons moes die Goue Beker gewen het.

Lesse geleer

“Die lesse lê daarin om nooit `n teenstander te onderskat nie, en tweedens dat dissipline op die veld iets is wat nie onderhandelbaar is nie. Ongelukkig het die hedendaagse spelers eenvoudig `n neiging om die breër prentjie te vergeet wanneer hulle die groot verhoog betree.”

Nieuwenhuis sê die feit dat Brakpan die enigste span in Suid-Afrika was wat weer in aanmerking moes kom om in die reeks om die Goue Beker te speel, was `n groot uitdaging (Die VRU het in teenstelling met die ander bonde daarop aangedring dat sy 2016-kampioen in die reeks moet speel en nie die 2015 kampioen nie. – Red.), “maar dit was uiteindelik die regte motivering, en ons het dit as `n eerste uitdaging aanvaar. Die res was sekondêr tot ons doelwitte.”

Hy sê die Panne was – benewens Ian Oosthuizen (haker), wat as die beste voorspeler van die reeks aangewys is, en as beloning nou in Skotland speel – baie gelukkig om spelers soos Theo Becker te hê, wat elke wedstryd vanjaar 80 minute lank voluit gespeel het. Hy het nes Gido Horn, wat week in en week uit goed gespeel het baie waarde tot die span toegevoeg. Hul ervaring het die span aansienlik versterk.

Voorts het Tiaan Ramat (skrumskakel) en Hagen Mumba (heelagter) baie goeie rugby in die reeks om die Goue Beker gespeel.

Diepte baar sukses

“`n Groot deel van die span se sukses het op die diepte binne die groep berus,” sê Nieuwenhuis.

“Die Panne was vanjaar bevoorreg om ses puik stutte en drie baie goeie hakers in die groep te hê, en hoewel Oosthuizen se Skotse besoek `n groot leemte laat, is daar jong manne soos Armand Jordaan van wie hoë verwagtinge gekoester word, en wat gewis sal deurbreek.

“Dit, saam met die hoofafrigter se visie, behoort te sorg dat daar geen probleem is nie. Die groep kan homself handhaaf.”

Nieuwenhuis sê 2017 is `n geval van “ons probeer weer” uit `n goeie posisie met die afrigterskorps wat nie behoort te verander nie; en die spelers wat met die sukses van 2016 op een of twee na almal terug in die tuig behoort te wees. Veranderinge aan die topbestuur is dalk moontlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.