Brasilië kies geldliga bo Curriebeker

Die Brasiliaanse Rugbykonfederasie (CBRu) het die gedagte laat vaar om sy topspelers in die Suid-Afrikaanse Curriebekerreeks te slyp.

Agustin Danza, die uitvoerende hoof van die CBRu, het op navraag aan Pale Toe! gesê die liggaam het besluit om eerder te fokus op die projek om ʼn beroepsliga in Suid-Amerika te vestig.

Die CBRu het vroeër laat blyk dat hy die SA Rugbyunie (Saru) wil nader om aan die Curriebekerreeks deel te neem, na aanleiding van die sukses wat ʼn Argentynse span, die Pampas-vyftiental, ʼn klompie jare gelede in die Suid-Afrikaanse reeks om die Vodacombeker behaal het.

Danza sê in die lig van die samesprekings met die oog op die Suid-Amerikaanse reeks vir beroepsklubs, voer die CBRu nie die Suid-Afrikaanse moontlikheid verder nie.

Luidens berigte word ʼn liga van agt spanne vir 2019 beplan, wat klubs uit Argentinië, Brasilië, Chili en Uruguay wil betrek.

Dit is geskoei op die Noord-Amerikaanse Senior Rugbyliga (MLR), wat vandeesmaand met sewe spanne afskop.
Daar word beoog om aanstaande jaar ook ʼn Kanadese span of twee by die MLR te betrek.

ʼn Kanadese proefspan wat daarna streef om aan die reeks deel te neem, die Ontario Arrows, het pas aangekondig hy het ʼn vennootskap met die Nieu-Seelandse Hurricanes gesluit, wat hom sal help om by die beroepsbedeling aan te pas.

Intussen beplan Brasilië ook aan ʼn eie beroepsreeks, met die Suid-Afrikaansgebore Beukes Cremer wat ʼn leidende rol speel.

Hy het die Oostelike Provinsie in onderouderdomrugby verteenwoordig, en die Brasiliaanse trui sedert 2015 in 15 toetse as skrumskakel gedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem ·

‘n Buitelandse span in die Curriebekerreeks? Is daar so min belangstelling die afgelope tye in die Curriebekerreeks dat na die buiteland vir trekpleisters gekyk word? baie duidelik het die reeks soos die jare aangestap het sl meer agteruit gegaan. Een van die dae kies ons buitelanders vir die Springbokspan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.