Brasilië (met 2 uit SA) soek wraak teen Chili

Beukes Cremer - 14de toets. (Foto verskaf)

Beukes Cremer – 14de toets. (Foto verskaf)

Brasilië het twee Suid-Afrikaners in sy span wat Vrydag in die Pacaembu-stadion in Sao Paulo verlede jaar se nederlaag teen Chili in die Amerikas-rugbykampioenskap moet wreek.

Chili, wat laaste in die reeks was, het die Brasiliane onverwags 25-22 geklop.

Beukes Cremer, `n gewese o.19-speler van die Oostelike Provinsie, speel skrumskakel in sy 14de toets vir die Tupis, en die 22-jarige Kaaps-gebore De Wet van Niekerk maak sy buiging in toetsrugby op die vleuel.

Buiten die verrassende sege teen Brasilië het Chili verlede jaar `n klompie groot loesings op die lyf geloop, en die tuisspan behoort die gunsteling te wees om Vrydag te wen.

Amerika teen Uruguay

Amerika, wat deur John Mitchell, `n gewese afrigter van die Lions en die Goue Leeus, gebrei word, kry insgelyks die geleentheid om van verlede jaar se brouwerk reg te maak.

Hy speel in San Antonio teen Uruguay, een van twee spanne (Brasilië was die ander een) wat die Arende verlede jaar slae gegee het.

Mitchell het verlede jaar se reeks grootliks vir spelersontwikkeling gebruik en`n stuk of 40 spelers ingespan. Vanjaar dien dit as voorbereiding vir die kwalifiserende ronde vir 2019 se toernooi om die Wêreldbeker, en met die oog daarop fokus hy skerper op die afronding van sy groep.

Vier van die Arende het bande met Suid-Afrika.

Die kaptein, Todd Clever, het twee seisoene vir die Lions en Goue Leeus gespeel. Die Australiër James Hilterbrand (haker) was kortstondig aan die Kings verbonde. JP Eloff (senter) is in Pretoria gebore, en Shaun Davies (skrumskakel) in Durban.

Guiseppe du Toit - op die bank. (Foto: BC Rugby News)

Guiseppe du Toit – op die bank. (Foto: BC Rugby News)

Argentyne teen Kanada

Die heersende kampioen, die Argentynse Vyftiental, begin vanjaar se reeks teen Kanada, wat verlede jaar derde ná Amerika was.

Hy het verlede jaar een van die min wegholseges in die reeks behaal toe hy die Esdorings 54-21 verniel het.

Soos Amerika het albei dié spanne eweneens verlede jaar die reeks vir spelerontwikkeling benut, maar is daar vanjaar `n sterk konsolidasie te bespeur.

Die losskakel Guiseppe du Toit, wat in Johannesburg gebore is, is op die bank vir Kanada. Hy het al die Kanadese o.20-span aangevoer.

Die Argentyne behoort weer te wen, maar die Kanadese lyk sterker as verlede jaar en kan beter meeding. Hulle speel boonop tuis in Langford.

Nog `n pluspunt vir die Kanadese is dat die hoofafrigter, Mark Anscombe, `n hele paar maande met die span kon werk, waar hulle verlede jaar `n tussentydse afrigter gehad het.

Die wedstryd geniet nie toetsstatus nie omdat die Argentyne nie hul nasionale span, die Poemas, in die veld stoot nie. Dié speel meestal Superrugby vir die Jaguares.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.