Brasilië skok Georgiërs tuis in Somerbeker

Brasilië het vir ʼn eersterangse skok gesorg deur ʼn Georgiese Vyftiental Saterdag in die toernooi om die Somerbeker in Tbilisi, Georgië, te verslaan.

Die Tupis het ʼn strawwe kragmeting met 20-18 gewen (rustyd 13-15).

Die Franse klub Racing 92 het die toernooi gewen deur ʼn Argentynse Vyftiental in nóg ʼn taai botsing met 14-8 onder te sit (rustyd 7-3). Die Argentyne het albei hul wedstryde verloor.

Die Georgiese Rugbyunie (GRU) het die toernooi gereël om sy breër spelerspoel met die oog op aanstaande jaar se toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) te help ontwikkel.

Sy nederlaag aan die hand van die onbesonge Brasilië moet as ʼn groot skok kom vir ʼn span wat jare lank al, ná die Sesnasielande, die beste in Europa is.

Die Tupis het die afgelope klompie jare verras met seges oor lande soos Amerika, Kanada, Portugal en België, en het ook al ʼn Argentynse Vyftiental laat tuimel. Hulle klop deesdae gereeld ʼn land soos Chili, met ʼn veel ouer rugbytradisie.

Brasilië is een van die lande wat Wêreldrugby (WR) vir versnelde ontwikkeling geoormerk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

bollie ·

‘n Georgiese Vyftiental, nie hul nasionale span nie. Dus geen skok nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.