Briljante Blitsbokke klop Fidji

Die Blitsbokke het Fidji met 20-19 in ʼn dramatiese eindstryd verslaan. (Foto: Twitter via @Blitzboks)

Ai, dit was lekker, stroopsoet-lekker.

Die Blitsbokke het Sondagmiddag in Singapoer een van hul beste vertonings nóg in die tweede helfte van die sewesreeks gelewer toe hulle Fidji met 20-19 in ʼn dramatiese eindstryd verslaan het.

Die Blitsbokke het nie net Fidji as kampioen onttroon nie, maar byna heeltemal seker gemaak dat hulle vir die Olimpiese Spele gaan kwalifiseer deur hul vierde posisie op die puntelys te bevestig.

Die Blitsbokke was uit op hul voete ná die eerste helfte nadat Fidji drie drieë gedruk het en met 19-0 voor was.

Hul senuwees het gelol, hulle het bottervingers gehad, hulle het swak verdedig en kon baie min met die karige besit uitrig.

Maar ná rustyd het hulle hart, durf en passie gewys en die Fidjiane, wie se dissipline begin lol het nadat hulle onder druk geplaas is, van hul voete af gehardloop.

Die Blitsbokke het 20 onbeantwoorde punte aangeteken, drie drieë gedruk en die uitasem kommentators rede gegee om jubel en lof uit te deel.

Só iets het sewesrugby nog nie beleef nie – onthou dis teen die meesters van sewesrugby, dit was byna onmoontlik.

Maar dis waarvan Suid-Afrikaanse spanne van die verlede aanmekaargesit is: Jy gee nooit moed op nie.

Lig die hoede vir die afrigter, Neil Powell, en al sy spelers. Hulle het die toernooi onoorwonne afgesluit en getoon dat hulle die nuwe krag van sewesrugby gaan word.

Daar is nie net een of twee spelbrekers of spelskeppers nie, maar ʼn hele span vol ysters.

Gee hulle die bal, en daar gaan baie min spanne wees wat hulle kan klop.

“Ek moet die spelers die krediet na rustyd gee, want hulle het gedoen waaroor daaroor gepraat is. Hulle het passie gewys,” het die beskeie Powell ná die wedstryd gesê.

Dit was mooi man, sommer baie mooi!

* In die uitspeelwedstryd om die derde plek het Engeland Amerika met 28-7geklop.

Puntestand: 1 VSA (145 punte), 2. Fidji (142), 3 Nieu-Seeland (130), 4. Suid-Afrika (121), 5. Engeland (107), 6. Samoa (87).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Thys ·

Die Blitzbokke het net 4 drieë gedruk nie: 3 drieë en ‘n strafskop oor geskop

Mariné Lourens ·

Dagsê Thys

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Arno ·

Welgedaan manne. Julle het ongelooflike karakter getoon. Wen met so n agterstand kos murg in jou pype. Ons is trots op julle.

George in Bloem ·

Baie geluk met ‘n fantastiese wen en puik toernooi aan ons Blitsbokke! Mens kan egter nie help om te wonder waar was DIE manne laasweek met die ramspoedige Hong Kong toernooi nie? Die naweek het bewys die kerels KAN so die tyd vir verskonings is verby. Nou is die tyd vir resultate soos die naweek s’n. Hierdie jong manne begin nou glo in hulleself en dit voorspel niks goeds vir die ander spanne nie. Weereens,knap gedaan,doen so voort en sterkte!!

SjN ·

Ek dink daar het n paar harde woorde geval halftyd, swak eerste helfte gehad, goed terug gekom, geluk.

JohanL ·

Welgedaan Blitsbokke – ek was rustyd maar baie skepties en het nie gedink hulle sal die ding kan deurtrek nie – dit is immers teen Fidji wat as hulle eers bloed geruik het, vernietigend kan wees. Maar daar gaan staan en doen die Blitsbokke dit toe wel – weereens welgedaan en geluk. Een van die grootste terugvegpogings in sewes.

PR ·

Seker van die beste 7 minute (2de helfte) wat ek al ooit op ‘n rugbyveld gesien het. Almal helde en weerspieel reenboognasie wat alles vir mekaar en hul land gee. Gedink minister van sport sou darem geluk se. Ai wensdenkery, wat sal sy nou iets goed in rugby sien. Dit is mos die witman se sport, al is die span op meriete sonder om enige kwotas.

JKS ·

7’s raak nou boring, soos 20/20 krieket, ek hou maar by die regte games.

Frans C ·

Sover ek dit kon nagaan kon nog geen span wat agter was halftyd in ‘n eindstryd,die wedstryd omdraai en wen.Dit was ‘n fantatiese vertoning wat seker nog lank onthou sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.