Die All Blacks-superster Dan Carter het Saterdag sy uittrede aangekondig ná honderde rugbywedstryde en duisende punte vir sy betrokke spanne. Hetsy dit in Nieu-Seeland, Frankryk of Japan was.
In ’n loopbaan van amper twee dekades het hy ongetwyfeld ’n paar taai kalante teëgekom.
Volgens Carter was Jonah Lomu, Thierry Dusautoir, Richie McCaw en Jonny Wilkinson van die beste spelers wat hy op die rugbyveld gesien het.
Maar, soos wat hy al vantevore gesê het, was daar niemand taaier as die Springbokke se Schalk Burger nie.
“Kyk, Schalk was ’n taai kalant. Ek het gewonder of my All Blacks-trui dalk ’n teiken op gehad het, want hy het net heeltyd vir my gekom,” het Carter gesê.
Die 38-jarige het ook die voormalige Bok-yster se werksetiek geloof.
“Hy sou byvoorbeeld in ’n hengse stryd met ons pak voorspelers gewikkel wees, maar hy het net nooit moed opgegee nie. Hy was ’n fisieke speler met ongelooflike krag.”
Sedert Carter se uittrede stroom die huldeblyke vir sy roemryke loopbaan in.
Almal – van Bryan Habana tot sir Clive Woodward – is dit egter eens: Carter was nie net ’n briljante speler op die rugbyveld nie, maar hy is ook ’n bobaas-individu langs die speelveld.
Die losskakel het ’n treffende boodskap aan sy ondersteuners geskryf waarin hy sê dat sy rugbydroom as ’n vyfjarige in 1987 begin het toe Nieu-Seeland vir die eerste keer die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het.
“Ek wou ’n All Black geword het. Ek wou my land verteenwoordig het. Selfs al was dit vir net een wedstryd,” het Carter geskryf.
Natuurlik gaan hy die spel mis, maar die tyd is reg om met ’n nuwe hoofstuk van sy lewe te begin.
“Om op die veld te draf en rugby te speel is een van die dinge wat ek die meeste in hierdie wêreld liefhet. Om mense met my spel gelukkig te maak was altyd ’n voorreg en iets wat ek nooit as vanselfsprekend aanvaar het nie. Ek dink dit is wat ek die meeste sal mis.
“Ek het nog altyd geweet dat my loopbaan nie vir ewig sal duur nie. Die spel is egter groter as enige van sy spelers. Ons kan net hoop om dit in ’n beter toestand agter te laat as waarin ons dit gekry het.”
Schalk het baie manne bang gespeel. En hy het die volle 80 minute gespeel. Een van die bestes ooit. Sal baie van vandag se flanke stukkend speel. Dink Dan was so bietjie skrikkerig vir Bismarck ook. Nog ‘n yster.
‘n Kenmerk van ‘n goeie speler is altyd dat jy eerder wou sien dat hy vir jou span as teen jou span speel.
Dan Carter was nog altyd my Kiwi fan. Sy spel en geaardheid het my altyd aangeraak.