Brits meen Bokke staan breed in Iere se pad

Kurt-Lee Arendse het hier te veel spoed vir die Ierse verdedigers. (Foto: Paul Faith/AFP)

Talle Ierse rugbyondersteuners meen dat Johnny Sexton se span reeds een hand op die Webb Ellis-trofee het. Maar volgens Schalk Brits is dit nie noodwendig ʼn uitgemaakte saak nie.

Die veelsydige voorspeler, wat in 2019 deel van die Springbokke se Wêreldbeker-wenspan was, glo dat die Iere dikwels stoom verloor wanneer hulle juis moet spoed optel.

“Ierland gaan beslis  ʼn taai uitdaging in die groepfase wees. Die afbreekpunte sal deurslaggewend wees en hulle sal so min as moontlik van die bal moet sien,” het Brits in ʼn RugbyPass Offload-podsending gesê.

In nege vorige probeerslae kon die Iere nog nie verder as die kwarteindstryd vorder nie.

“Ierland is ʼn vreemde rugbygeval. Hulle het nog altyd uitstekende spel in die tydperk tussen die Wêreldbeker-toernooie opgedis, maar sodra dit Wêreldbeker-tyd is, is dit ʼn ander storie.”

Richie McCaw het 148 toetse vir die All Blacks gespeel. (Foto: Twitter)

Op sy beurt meen Richie McCaw dat die Iere die pas in die Noordelike Halfrond aangee.

“Daar is baie mense wat dink dat Ierland of Frankryk met die louere kan wegstap. Maar soos wat ons al vantevore gesien het, beteken die topplek op die internasionale ranglys nie veel by ʼn Wêreldbeker-toernooi nie,” het die legendariese All Black-speler gesê.

Hy het na die Iere se reeksoorwinning teen Nieu-Seeland verwys om die span se soektog na sukses te beklemtoon.

“Die manier waarop Ierland daardie reekssege georkestreer het, was baie indrukwekkend en hulle het dit onlangs met nog goeie vertonings in die Sesnasiesreeks opgevolg. Dinge kan beslis interessant raak in Frankryk.”

Hy het bygevoeg dat ʼn mens ook nooit die Wallabies kan onderskat nie. Veral nie met Eddie Jones aan die stuur van sake nie.

“Eddie is ʼn afrigter wat vinnige verandering kan bewerkstellig en vir sy span goeie voorvoetmomentum gee. Ek glo nie dinge gaan nou veel anders by die Wallabies wees nie.”

Ierland se vertonings by Wêreldbeker-toernooie:

1987: Kwarteindstryd

1991: Kwarteindstryd

1995: Kwarteindstryd

1999: Kwarteindstryd-uitspeelwedstryde (’n unieke verskynsel by dié Wêreldbeker-toernooi)

2003: Kwarteindstryd

2007: Groepfase

2011: Kwarteindstryd

2015: Kwarteindstryd

2019: Kwarteindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Tyd sal leer. Die Iere moet eers by die Franse Hane en ook die NZ All blacks verby kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.