Britse en Ierse Leeus betaal duur prys teen Japan

Die Leeus het Saterdag hul opwarmtoets teen Japan met 28-10 gewen. (Foto: Official Lions Rugby/Facebook)

Die spoke van die Britse en Ierse Leeus se rampspoedige toer in 1980 na Suid-Afrika het Saterdag op Murrayfield in Edinburg opnuut lewe gekry.

Die Leeus het Saterdag hul enigste opwarmtoets teen Japan met 28-10 gewen nadat hulle rustyd met 21-0 voor was, maar ʼn baie duur prys betaal.

Die toerkaptein, die slot Alun Wyn Jones, is in die agste minuut van die eerste helfte met ʼn gewrigsbesering van die veld af en dit lyk asof sy toer kortgeknip kan word, nog voordat die span Sondag na Suid-Afrika vertrek.

Hy is deur Courtney Lawes vervang en die haker Ken Owens het die kapteinskap oorgeneem, want die twee ander kandidate, Owen Farrell (senter) en Maro Itoje (nie gekies nie), was nie op die veld nie.

Die flank Justin Tupiric het ook seergekry en is deur Talupe Faletau vervang.

Kom ons blaai terug na 1980 se rampspoedige toer, toe nege Leeus nie die toer kon voltooi nie en agt plaasvervangers, insluitende John Robbie, nadergetrek is.

Stuart Lane se toer was in die eerste wedstryd ná skaars 55 sekondes verby en die loopbane van Rodney O’Donnell (verlam ná ʼn nekbesering) en Colin Paterson (knie) was daarmee heen.

Dis geen wonder nie dat die Bokke die reeks baie gemaklik gewen het hoewel die Leeus onoorwonne in hul kragmetings met die provinsiale spanne was.

Die groot vraag is of die span van 2021 die Springbokke kan baasraak.

Daar was ʼn hele paar regmerkies soos veral dié van die losskakel Dan Biggar.

Die toerspan was klinies in die eerste uur, hul verdediging was rotsvas, hulle het die basiese beginsels goed uitgevoer en met groot dissipline gespeel.

Maar hoewel ʼn mens nie te vroeg wil praat nie, weet ʼn mens nie of die Leeus se pak opgewasse sal wees vir die fisieke Bokke nie. Hul stoom het opgeraak laat in die tweede helfte nadat hulle met 28-0 voor was.

Dit is te verstane, want die hoofafrigter, Warren Gatland, het die toerspan die afgelope paar dae in Jersey baie hard gedruk.

Wat duidelik is, is dat die toerspan beweeglik is en die spel vinnig gaan maak.

Die skrumskakel Conor Murray gaan die bal ook voor die voorspelers hou.

Die intensiteit gaan hoog en vinnig wees, want die Leeus mors baie min tyd by die lynstane en wanneer strafskoppe waargeneem word.

Hoe het die Suid-Afrikaner Duhan van der Merwe gevaar? Hy het ʼn puik drie gedruk en kan tevrede wees, maar sy gebrek aan ervaring is een of twee keer blootgelê.

Punte: Britse en Ierse Leeus 28 (21): Drieë: Josh Adams, Duhan van der Merwe, Robbie Henshaw, Tadhg Beirne. Doelskoppe: Dan Biggar (4).

Japan10 (0): Drie: Kazuki Himeno. Doelskop: Yu Tamura. Strafdoel: Tamura.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.