Britse en Ierse Leeus: Dis waar helde gebore word

Naas Botha (1987) (Foto: Oorspronklik gedeel deur Blackcat op die Italiaanse Wikipedia via Wikimedia Commons)

Wanneer die son aanstaande maand oor die Britse en Ierse Leeus-rugbytoer in Suid-Afrika sak, sal daar sekerlik nuwe helde wees.

Dink maar terug aan Tom van Vollenhoven in 1955, Mannetjies Roux in 1962, Naas Botha in 1980 en Bryan Habana in 2009.

Daar was baie ander helde, gans te veel om op te noem, maar Frik du Preez, Johan Claassen, Jean de Villiers, Schalk Burger, Fourie du Preez, Morné Steyn, Bakkies Botha, Victor Matfield en Morné du Plessis sal altyd ʼn spesiale plekkie hê.

Wat van toeka se helde, soos Dok Craven en Bennie Osler?

Aan die Leeus se kant duik die name van Tony O’Reilly, Cliff Morgan, Willie John McBride, Gareth Edwards, Phil Bennett, JPR Williams, Fergus Slattery, Martin Johnson, Scott Gibbs, Keith Wood en Jeremy Guscott gereeld op wanneer daar om die braaivleisvure oor die Leeus gesels word.

Van die eerste toer af in 1891, in die 13 reekse waarvan die Springbokke agt gewen het, die Leeus vier met die reeks van 1955 gelykop, is daar elke keer goue drade geweef.

Maar soms, soos in 1974 en weer in 1997, word daar met groot weemoed daaroor gesels, hoewel die vreugde groot was onder meer ná die wenreekse in 1962, 1968, 1980 en weer in 2007.

As ʼn mens deur die rekordboeke blaai, is daar ʼn magdom verhale van durf, daad en deursettingsvermoë, van passie en flair ek ook van trane.

Soos die verhaal van Stanley Harris, wat onomwonde as die mees veelsydige Britse en Ierse Leeu was.

Harris, wat in 1897 in Somerset in Engeland gebore is, het volgens verskeie bronne internasionale kleure in vyf sportsoorte verwerf.

Hy is in die Eerste Wêreldoorlog gewond (ander sê weer dit was tydens rugbyproewe) en het sy aandag toe op dans toegespits, waar hy ʼn medalje op die wêreld-amateurkampioenskappe gewen het. Hy is in 1920 vir die Britse span vir die Olimpiese Spele gekies, maar het hom eerder op rugby toegespits. Hy het in 1924 deur Suid-Afrika getoer en het 15 keer op toer gespeel, insluitende in twee toetse.

Hy het ook internasionale kleure in polo en tennis verwerf voordat hy hom in Suid-Afrika gevestig het waar hy Springbokkleure as die land se nasionale ligswaargewigbokskampioen verwerf het.

Hy het in albei Wêreldoorloë geveg en is met ʼn OBE (Orde van die Britse Ryk) en CBE (bevelvoerder van die Britse Ryk) vereer voordat hy in 1973 in Kenilworth in Kaapstad oorlede is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

BIL is voorwaar ‘n baie spesiale toer. As kind het ek die briljante 1974- span en die 1980 Leeus in aksie gesien. Bietjie afgewater deesdae omdat hulle so min wedstryde speel, daai jare was dit massiewe toere met om en by 18 wedstryde. So het ek bv. die 1974-span teen die ou WP-Liga by Goodwood se skougronde gesien. In 1980 druk Serfontein die wendrie in beseringstyd om die wedstryd vir die Bokke op Nuweland te wen.

MakersMark ·

Die BIL is ‘n spesiale toer ons wil hul ook nie teen elke semi klubspan en vlaktejakkals 15 tal sien nie. Groot unies soos Bulle, Leeus en Sharks. Dalk SA O/23 en SA B of Junior bokke. WP so vrot deesdae kan maar ‘n mid week wedstryd word. Cheetahs sal beter doen op ‘n Saterdag.

MakersMark ·

Die kolonie se spannetjie is so vermakerig hou net aan lag. Hele storie spul bolla.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.