Britse en Ierse Leeus; Gatland verras met sy nuwe kaptein

Warren Gatland. (Foto: Anne-Christine POUJOULAT/AFP)

Warren Gatland, hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus se rugbyspan na Suid-Afrika, het verras toe hy die Ierse skrumskakel Conor Murray as sy nuwe kaptein in die plek van die beseerde Alun Wyn Jones vir die toer na Suid-Afrika aangewys het.

Jones het Saterdag in Edinburg ʼn skouerbesering opgedoen in die opwarmtoets teen Japan, wat ook die einde van die flank Justin Tipuric se toerdrome beteken het.

Jones word deur Adam Beard van Wallis vervang en Tipuric deur nog ʼn Wallieser, Josh Navidi.

Murray (32) het reeds 89 toetse vir Ierland gespeel en was voorheen op twee Leeus-toere.

Hy is nie eens Ierland se kaptein nie en daar is algemeen verwag dat Owen Farrell, Maro Itoje of Stuart Hogg die mantel sou oorneem.

Dit sal dus baie interessant wees om te sien hoe Gatland sy kaarte op toer gaan skommel.

Die Ierse skrumskakel Conor Murray is as nuwe kaptein van die Britse en Ierse Leeus se span na Suid-Afrika aangewys. (Foto: Official Lions Rugby/Facebook)

Op vorige Leeus-toere na Suid-Afrika het verskeie slotte, soos Martin Johnson, Willie John McBride, Billy Beaumont en Paul Connell, die jawoord gekry en dis hoekom Jones aanvanklik gekies is.

Nou is Gatland gedwing om daarvan af te sien en Murray aan te wys.

Jones se besering maak die deur oop vir Ian Henderson en Itoje om die slotte teen die Springbokke te wees, maar daar sal vuur ontbreek. Albei is balvaardige spelers, maar hoe sal hulle teen die fisieke Bokke vaar?

Die toerspan vertrek Sondag na Suid-Afrika en speel reeds komende Saterdag op Ellispark teen die plaaslike Leeus.

Hulle gaan boonop in Kaapstad in ʼn bioborrel tuis en daar voorberei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anton ·

Ek is jammer vir AWJ. Great speler, hard en sonder fiemies.

piet ·

Itoje is een van die min Engelse spelers wat goed gespeel het teen die Bokke in die Wereldbeker-eindstryd.

MakersMark ·

Jammer vir AWJ fantastiese leier en kaptein. Nederig ook. Etoje en Farrel heeltemal te arrogant en albei verwerk druk negatief en maak foute. Murray seker die bes gebalseerde speler on kapteinskap oor te neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.