Britse en Ierse Leeus: Skandes en skitterspel deur SA se oudste toetsvyand

Foto: Marty Melville/AFP.

Yslike groepsgevegte op die veld, vandalisme in hotelle, doelbewuste, geteikende beskuldigings teenoor die Britse en Ierse Leeus se grootste sterre deur ons tuisspanne, die gewone “onskuldige” kattekwaad van rugbymanne op toer, en van die beste rugby wat nóg in Suid-Afrika gesien is …

Dit, in ʼn neutedop, is wat die Leeus tot dusver op hul 13 toere na Suid-Afrika gebring het sedert hulle Saterdag, op ses dae na 130 jaar gelede, die heel eerste amptelike toer ter wêreld in 1891 afgeskop het.

Voordat ons na van die hoogtepunte uit Springbok-geledere deur die loop van die 46 toetse kyk, asook na die behoorlik gestaafde vandalisme van die Britse Leeus in hotelle en ander onaanvaarbare toergedrag deur die jare, is ʼn kortlikse kykie na die ontstaan van die band tussen Suid-Afrikaanse rugby en die Leeus, en gevolglik ook die vier tuisunies, seker gepas.

Uitnodiging aan Brittanje

Die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie is in 1889 gestig, sowat 21 jaar voordat die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 tot stand gekom het. Die land was in 1889 nog verdeel in die twee Boererepublieke, Transvaal en die Oranje-Vrystaat, en die twee Britse kolonies, naamlik Kaapland en Natal.

Provinsiale rugbywedstryde is sedert die stigting taamlik gereeld in veral Kimberley, Kaapstad en die Oostelike Provinsie gespeel, met toernooie wat ook gehou is.

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Die Engelse Rugbyunie is einde 1890 genooi om ʼn span te stuur om hier te kom toer, waarna hulle tot 19 wedstryde in 1891 ingestem het, met inbegrip van drie wedstryde teen  ʼn Suid-Afrikaanse verteenwoordigende span.

Die verteenwoordigende wedstryde, soos dié teen soortgelyke spanne op die Britte se toere in 1896 en 1903, is later terugwerkend na toetse deur SARU en ook die Britte opgegradeer, en word vandag as toetse tussen Suid-Afrika en die Leeus beskou.

Die SA Rugbyunie het ook later terugwerkend spelers in hierdie “toetse” Springbokstatus gegee.

Die “verteenwoordigende” wedstryde se spanne is deur die plaaslike span se kaptein gekies en met een of twee uitsonderings is die spanne dan ook deur hom aangevoer. Die kaptein het ook die truie verskaf; meestal sy skool, klub of unie s’n.

Die Britse span van 1891, bestaande uit net Engelse en Skotse spelers van Suid-Londen (wat ses voltydse Cambridge-studente en vier internasionale spelers ingesluit het), het sy eerste wedstryd op 9 Julie 1891 op Nuweland gespeel.

Die enkele punt wat die 1891-span in sy 19 amptelike wedstryde afgestaan het, was ʼn drie deur Hasie Versfeld in die heel eerste wedstryd!

Die Leeus het per boot uit Southampton vertrek en slegs drie dae voor die eerste wedstryd teen die Kaapse klubs in Kaapstad aangekom. Die eerste week het uit ʼn reeks sosiale funksies en verpligtinge, asook drie wedstryde bestaan.

Die res van die toer was ʼn amperse replika van die eerste week en Peter Clause, hul uitblinker-senter, het die toer deur Suid-Afrika as “travel and champagne” beskryf.

Die span het altesaam 4 110 myl (6 580 km) afgelê, waarvan 5 220 km per perdekar was, met hier en daar ʼn entjie per trein, en ʼn amper rampspoedige bootreis tussen Oos-Londen en Durban.

Die helfte van die span het selfs ná die een perdewa se wiel tussen Johannesburg en Kimberley afgeval het, ʼn nag in ʼn hut geslaap! En toe hulle uiteindelik die volgende aand in Kimberley aankom, moes hulle die volgende dag na net ʼn enkele aand se nagrus op Kimberley se klipharde veld speel!

In die Oos-Kaap het die Leeus ses wedstryde in 11 dae gespeel.

Vanjaar se Leeus sal met 37 spelers, ʼn stewige afrigtingspan, dokters, fisioterapeute en masseurs vir hulle besoek van net agt wedstryde op pragtig versorgde velde speel; plus natuurlik ʼn klomp skakelmense, amptelike persverteenwoordiger(s) en fotograwe.

Daarteenoor het die 1891-span 21 spelers en ʼn enkele toerbestuurder vir hul 19 wedstryde gehad.

 Bakleiery en die “99-kode”

Willie John McBride. Foto: Twitter.

Tydens alle toere is daar maar opstootjies en verdwaalde vuiste. Die Leeus het oor die jare egter geglo dat hulle deur plaaslike skeidsregters verneuk word en ʼn nuwe konsep, die “99-kode”, het in 1974 die lig gesien.

Dit was nadat hul stut, John O’Shea, in 1968 die eerste Leeu was wat in 77 jaar afgejaag is. Hy is volgens die Britse pers deur ʼn spul Oos-Transvaalse voorspelers getakel, en toe as enigste Leeu uitgesonder wat teruggeslaan het en toe afgestuur is.

Hy is glo met die afstap in die tonnel deur ʼn toeskouer, plaasvervangers, beamptes en selfs polisie te lyf gegaan. (Of só is dit in Brittanje vertel!)

Willie John McBride het by die pawiljoen afgehardloop, O’Shea te hulp gesnel en die “99-kode” het daaruit ontstaan: As daar op die 1974-toer weer ʼn groepsgeveg sou uitbreek, sou alle Leeus, van waar ook al op die veld, gaan help baklei!

Dit het ʼn keer of wat op die toer gebeur, maar die “hoogtepunt” was in die derde toets in Port Elizabeth toe JPR Williams seker 40 meter ver genael het om te gaan help baklei!

Hoogtepunte in Leeus-toetse
ʼn Paar hoogtepunte tydens die 46 toetse tussen die Springbokke en Leeus:

  • Frik du Preez se enigste toetsdrie was op Loftus in die 1968-toets teen Tom Kiernan se 1968-toerspan toe hy die bal in ʼn skilbeweging voor om die lynstaan van sy ou groot maat, Mof Myburgh, ontvang en sowat 40 meter langs die hoofpawiljoenkantlyn af genael het. Jeff Young, die Leeus se nuwe haker, die beroemde (nou Sir!) Gareth Edwards in sy eerste Leeus-toets en ook Tom Kiernan, die heelagter en kaptein, kon Frik nie keer nie.
  • Tom (toe nog Karel genoem) van Vollenhoven se driekuns in 1955 se tweede toets op Nuweland nadat die Leeus die eerste toets met 23-22 gewen het.
  • Mannetjies Roux se onvergeetlike langafstand-drie van sowat 70 meter op die Vrystaat-stadion in 1962.
  • En weer Mannetjies, in 1968, ná hy die perfek berekende aangee van losskakel Piet Visagie ontvang het, tussen twee teenstanders deurgesnel het en met ʼn systap 40 meter later die laaste verdediger kon ontduik.
  • Gysie Pienaar se uithaler-toetsvertoning op dieselfde veld in 1980. Uitmuntend!
  • Morné Steyn se skop van 54 meter het die 2009-reeks reg in die laaste oomblikke van die tweede toets

    Morné Steyn se wenskop. Foto: Alexander Joe/AFP.

    beklink.

  • Die oorstoot-“drie” in 1962 van Michael Cambell-Lamerton – net vier meter van my af in die suidwestelike hoek van Kingspark – wat nie deur die skeidsregter toegeken is nie. Vandag se televisiebeslissings sou dalk ʼn ander uitkoms gehad het … én die reeksuitslag verander het.
  • Die besering van Peter Kirsten, skitterende toetskolwer en moontlik ʼn nóg beter losskakel, wat as 19-jarige vir die Kwaggas teen die Leeus op Ellispark seergekry en die einde van sy rugbyloopbaan beteken het. Dit was so hittete of dit was die 1974-Leeus se enigste neerlaag op die toer.
  • Die “wen”-drie van flank Fergus Slattery, reg teen die einde van 1974 se vierde en laaste toets wat nie deur die skeidsregter Max Baise toegelaat is nie. Die toets was gelykop en het verhoed dat die onoorwonne Leeus ʼn reeks-skoonskip maak.
  • “Fairy” Heatlie wat die SA Verteenwoordigende span in die derde toets in 1903 in sy oud-skoletrui van Bishops laat speel het. Suid-Afrika het in die “toets” hul eerste oorwinning behaal (8-0) na ʼn drie, laat in die tweede helfte deur Oupa Reid in sy enigste toets. Hy het daarmee ook die reeks vir Suid-Afrika gewen.

Skitterrugby deur die jare
Daar was deur die jare skitterende rugby, deur die Springbokke én die Leeus.

Ek was bevoorreg om tydens elk van die sewe Leeus-toere na Suid-Afrika, ná die Tweede Wêreldoorlog, minstens een wedstryd (in 1955) te sien, en vele meer wedstryde en toetse tydens die ander ses toere.

Ek onthou die 1955-Leeus se grotes, veral Jeff Butterfield, sy sentermaat Phil Davies, losskakel Cliff Morgan, die vleuel Tony O’Reilly, Mike Greenwood …

In latere jare was daar onder meer die man wat as die grootste Britse en Ierse Leeu nóg beskou word – Willie John McBride – ʼn leier en ware rugbyheer. Verder was daar sy 1974-spanmaat Mighty Mouse MacLachlan en dié se voorrymaat Fran Cotton, die ligtekop-flank Fergus Slattery, die hele 1974-agterlyn met sterre soos Gareth Edwards, Phil Bennett, JPR Williams, JJ Williams – die heel, heel beste agterlyn wat ek bevoorreg genoeg was om te sien uitdraf.

Op ander toere was daar ander skitterende agterspelers soos Mike Gibson, Richard Sharp en Barry John wat seergekry het. Hierdie spelers se doelbewuste “uithaal” van hul beste spelers tydens provinsiale wedstryde het die Britte behoorlik rooiwarm onder die kraag gekry!

Ag, dis dié soort toere wat rugby vir sy ondersteuners die spel maak wat dit is.

 Wangedrag
Dan was daar die 1962-Leeus – bekend as die “Wreckers” – wat skade aangerig het by talle hotelle deur beddens by die vensters uit te gooi, brandslange in die gange te spuit, deure af te breek, kos en drank te bestel sonder om daarvoor te betaal, en sommer net ongeskik teenoor die publiek opgetree het.

Die 1968-Leeus is deur die Sunday Times as “the worst-behaved team ever to tour South Africa” beskryf.

En die 1974-span se dikwels snaakse, maar té dikwels ook onaanvaarbare manewales, is 29 jaar later weer opgediep en soos volg deur The Guardian van 14 Junie 2013 beskryf: “A history of Lions tours: drinking bouts, unpaid debts, girls in tears.

Foto: Michael Bradley/AFP.

Die 1974-span het, nadat hulle die Bokke in Pretoria hul grootste loesing nóg gegee het (28-9) en in die volgende toets in Port Elizabeth feitlik daarop verbeter het (26-9) en sodoende die reeks beklink het, hul hotel in die Baai redelik erg verwoes – soveel só dat die hotelbestuurder, sopnat met ʼn brandslang deur die haker Bobby Windsor gespuit, gedreig het om die polisie te ontbied.

Dié soort gedrag word nie meer geduld nie. Daarvoor sorg die pers wat saam toer, skorsings en selfs die opskort van kontrakte dat die manne nou twee maal dink.

Einde van lang toere
Een van die groot hartseersake van toetsrugby is dat die (finansiële) vereistes van die beroepsera waar die Britse klub die sweep klap, ʼn einde aan “lang” rugbytoere deur internasionale spanne gebring het.

Al wat van hierdie hoogtepunte oorgebly het, is die 12-jaarlikse besoek van die Britse en Ierse Leeus aan die drie voorste lande in die Suidelike Halfrond.

Die Leeus (soos alle ander nasionale toerspanne) het tot 1980 teen ál die provinsiale spanne, asook teenstanders soos die Suidelike/Noordelike/SA Universiteite, die Gekombineerde Magte, die SA Plattelandse span, al die unies se uitsoekspanne, die ou Junior Bokke (lees SA “A”) en dies meer gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Fantastiese geskiedenis en ryk rugby erfenis mag B&IL toere voortgaan vir nog baie jare. Ek was op Kingspark in 2009 toe die Beast vir Vickery verpletter het, en in Sydney3 de toets in 2013 toe die Leeus voorry die Aussies pap geskrum het en die B&IL die reeks gewen het. Was in die trein oppad terug van die Olimpiese Stadion terug Sydney toe nog nooit so baie dronk Engelse, Iere, Skotte en Walliesers bymekaar gesien nie. En het hul gesing !! Wonderlike herhinneringe.

Naomi

Dankie vir die pragtige brokkie geskiedenis baie geniet…

Chris

Ek sal as oudmodies of wat ook al beskryf word. Dit is asof die rugby voor die professionele era meer aansien en atmosfeer te weeg gebring het. As jy rugby gespeel het was dit vir die liefde vir die spel. Het self so bietjie rugby gespeel. Daardie dae het jy jou eie toks, sokke en broek gekoop. Die truie was die klub se eiendom. Was ook al “man of the match” en het ‘n “draft bier” gekry. Na die wedstryde is daar geparty. Ek sal die Toyota Klub toernooi oor die paasnaweke nie vergeet nie. Het goeie herinneringe. Die klub… Lees meer »