Britse en Ierse Leeus: Toerbarometer

Warren Gatland. (Foto: Anne-Christine POUJOULAT/AFP)

Daar sal binnekort ʼn besluit oor die komende Britse en Ierse Leeus se rugbytoer in Julie na Suid-Afrika geneem moet word, maar intussen is die Sesnasiesreeks soos manna uit die hemel vir Warren Gatland en sy afrigtingspan, want vir beter proewe kon hulle nie gevra het nie.

Gatland, wat verlede jaar terug na Nieu-Seeland verhuis het, was juis die naweek in Brittanje waar hy van die kragmetings dopgehou het.

Hy sou beslis baie waarde geput het uit Skotland se oorwinning van 11-6 oor Engeland op Twickenham en Wallis se sege van 21-16 oor Ierland in Cardiff nadat die Ierse flank Peter O’Mahony met ʼn rooi kaart (gevaarlike skouerloop teen die kop) in die 14de minuut afgestuur is.

Dit het die sewe Ierse voorspelers onder groot druk geplaas, maar dit is waarvan ʼn afrigter hou, om te sien hoe vaar die kandidate in drukkokersituasies.

ʼn Hele paar van die voorste aanspraakmakers soos Liam Williams (Wallis), Jonathan Davies (Wallis), Manu Tuilagi (Engeland) en Bundee Aki (Ierland) is nog beseer en in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om Gatland te beïndruk.

Voorlangs sal die Engelse stut Maku Vunipola ook moet wys dat hy fiks is.

Oor die kapteinskap sal daar kwaai kopgekrap word, met die Engelse slot Maro Itoje voor in die ry, maar dalk het die heelagter Stuart Hogg ook sy naam in die hoed geplaas.

In 1968 was die Ierse heelagter Tom Kiernan juis die Leeus-toerspan se kaptein in Suid-Afrika. Een van die probleme is dat Hogg nie pale toe skop nie, wat die deur vir Owen Farrell (op binnesenter en dalk as kaptein) kan ooplaat.

Só het van die voorste kandidate gevaar:

Heelagters: Hogg (Skotland) het uitgetroon, met die Ier Hugo Keenan en die Wallieser Leigh Halfpenny ook in die ry. Halfpenny is ook ʼn betroubare doelskopper en dit kan in sy guns tel.

Vleuels: Duhan van der Merwe (Skotland), Louis Rees-Zammit en Stuart Maitland (Skotland) was die uitskieters, met die Engelse Anthony Waton en Jonny May maar bra eina-eina.

Senters: Die beste kombinasies was Garry Ringrose en Robbie Henshaw van Ierland en Cameron Redpath en Chris Harris van Skotland. George North (Wallis) begin al hoe beter vaar nadat hy senter geskuif toe is. Kan hy dalk in Tana Umaga en Jaque Fourie se spore volg wat ook van vleuel na senter geskuif is?

Losskakels: Die Skot Finn Russell het sy neus voorgekry, want Farrell het baie verroes vir Engeland gelyk. Johnny Sexton se ellelange beseringslys bly ʼn las en Dan Biggar (Wallis) het voor- en nadele.

Skrumskakels: Tomos Williams (Wallis), Ali Pice (Skotland), Ben Youngs (Engeland) en Conor Murray (Ierland) het goeie dinge gedoen, maar ook verbrou.

Voorry: Die Skotse drietal van Rory Sutherland, George Turner en Zander Ferguson was puik, maar is dit genoeg om die Bokke te tem? Die Walliese loskop Wyn Jones en die haker Ken Owens was ysters en Ierland spog met Taidgh Furlong.

Slotte: Maro Itoje (Engeland), Johnny Gary (Skotland) en die Walliese veteraan Alun Wyn Jones het die oog getref. Dan is dit jammer dat die Ier James Ryan harsingskudding opgedoen het, hoewel sy spanmaat Taidgh Beirne na vore getree het.

Losvoorspelers: Die Skot Hamish Watson was kaviaar, met Taulupe Faletau (Wallis), CJ Stander en Josh van der Flier (Ier) wat ook hulle hande opgesteek het. Billy Vunipola (Engeland) sal sy sokkies moet optrek, want hy was swak teen die besielende Skotte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Britse en Ierse Leeus dit sê alles -4 lande wat saamspan om ‘n span van een land te klop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.