Britse en Ierse Leeus-toerdatums bly onveranderd

Die Britse en Ierse Leeus sal in 2021 agt wedstryde in Suid-Afrika speel. Foto: Twitter.

Aanstaande jaar se Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika gaan voort soos dit aanvanklik geskeduleer was. Die welkome aankondiging kom te midde van vrese dat die toer weens die wêreldwye Covid-19-pandemie uitgestel sou word.

“Die hele Suid-Afrika sien daarna uit om die Lions te verwelkom en ons gaan voort met ons planne om plaaslike en oorsese ondersteuners op ’n wonderlike ervaring te trakteer,” het SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, gesê.

“Dit sal die derde Leeus-toer wees sedert die spel sy professionele baadjie aangetrek het. Hulle het in 1997 met die louere weggestap, terwyl die Springbokke in 2009 gewen het. Die Bokke was met elke geleentheid die verdedigende wêreldkampioen en die komende toer kan ook een vir die geskiedboeke wees.”

Met die Leeus wat net elke 12 jaar na Suid-Afrika toer, het Bokke soos Cheslin Kolbe onder meer aangedui dat hulle eerder vyftienmanrugby teen die Britse toeriste wil speel, as om sewesrugby op die Olimpiese verhoog te speel.

Ben Calveley, die Leeus se toerdirekteur, het gesê dat hoewel die Covid-19-pandemie die wêreld se sportkalendeur deurmekaargekrap het, kan daar bevestig word dat die aanvanklike toerdatums onveranderd bly.

Die Leeus sal agt wedstryde op hul Suid-Afrikaanse safari speel.

Bepalings:

3 Julie 2021: Britse en Ierse Leeus teen die Stormers

7 Julie:  Britse en Ierse Leeus teen ’n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan

10 Julie 2021: Britse en Ierse Leeus teen die Sharks

14 Julie 2021: Britse en Ierse Leeus teen Suid-Afrika A

17 Julie 2021: Britse en Ierse Leeus teen die Bulls

24 Julie 2021:  Britse en Ierse Leeus teen die Springbokke (FNB-stadion)

31 Julie 2021: Britse en Ierse Leeus teen die Springbokke (Kaapstad-stadion)

7 Augustus 2021: Britse en Ierse Leeus teen die Springbokke (Emirates Airline-park)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.