Britse Leeus brul hard in Johannesburg

Josh Adams op pad na een van sy vier drieë. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Oukei, die Britse en Ierse Leeus speel inderdaad glad nie slegte rugby nie.  Die toerspan van Brittanje het hul Suid-Afrikaanse safari met ’n sege van 56 – 14  teen die plaaslike Leeus van Johannesburg begin.

Die besoekers het teen ’n vinnige tempo gespeel en uiteindelik agt drieë gedruk om die wedstryd op ’n drafstap te wen.

Warren Gatland se troepe was besonder gevaarlik met die bal in hand en hul seepgladde hanteerwerk het die tuisspan se verdediging gereeld gefnuik. Josh Adams het hope spasie op vleuel geniet en ná 80 minute se spel het die Walliese speler vier keer agter die Johannesburgers se pale gaan kuier.

Dan het Owen Farrell weliswaar ’n foutlose skopvertoning gelewer, maar sy span se driedrukhelde het dinge verspotmaklik vir hom gemaak en hy kon met die grootste gemak die bal van reg voor die pale oor die dwarslat jaag.

Voorlangs het ’n energieke Hamish Watson soos ’n wafferse Duracell-hasie tekere gegaan en die Springbokke sal ongetwyfeld versigtig vir hom moet wees, ongeag van die feit dat hy amper 20 kilogram ligter as Pieter-Steph du Toit is.

Rabz Maxwane in aksie. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die tuisspan het darem ook ’n paar goeie oomblikke beleef. Vincent Tshituka en Rabz Maxwane sal hul drieë vir ’n baie lang tyd onthou, terwyl die jong Jordan Hendrikse nog diep spore in Suid-Afrikaanse rugby gaan trap.

Maar die Britse en Ierse Leeus het ’n onheilspellende waarskuwing – veral met die bal in hand – aan die res van hul teenstanders gestuur. En hoewel die Springbokke waarskynlik (hopelik!) nie kanonvoer is nie, kan Gatland se span net sterker word soos wat die toer na die toetswedstryd-crescendo opbou.

  • Puntemakers:

Britse en Ierse Leeus: Drieë: Josh Adams (4), Louis Rees-Zammit, Hamish Watson, Ali Price en Gareth Davies. Doelskoppe: Owen Farrell (8).

Leeus: Drieë: Vincent Tshituka en Rabz Maxwane. Doelskoppe: Jordan Hendrikse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tubac ·

Oukei die Britse en Ierse leeus speel nie slegte rugby nie? Ag asseblief. Die telling wys iets anders. Gee hullekrediet vir die spel gelewer!

piet ·

Die gehalte van ons plaaslike rugby sonder die Bokke (nou nie dat die Leeus tans veel Bokke het in elk geval nie) is al lankal onder die loep en hierdie wegholoorwinning beaam dit maar net. Ons het ‘n probleem met die kwaliteit van local spelers in ons plaaslike kompetisies. Ons beste spelers gaan te gou oorsee (nie dat ek hulle verkwalik nie want daar is nie geld om hulle hier te hou nie). NZ se plaaslike kompetisies is baie sterker want dit lyk asof hulle hul beste spelers vir langer in hul plaaslike spelers kan laat speel. In NZ is die neiging meerendeels dat die top-spelers eers later in hul loopbane oorsee gaan speel. Ons plaaslike spanne gaan swaarkry in die Pro 16 en die situasie gaan net meer verswak.

Anthony ·

Bokke gaan moet bont staan. Ons 1ste helfe was maar ietwat power gewees, dit het beter gegaan to die impak speler in die 2de helfte opgekom het. Ek het doe gevoel ons gaan die toer dalk nie wen nie.

MAGRIETHA ·

SA leeus was met tye goed verdediging nie altyd op standaard nie kyk ma ierland driee veral van josh se driee da was niemand voor hom nie ,wa was olengo glad nie in posisie nie dit moet man teenoor man wees jy da om jou opinent in toom te hou ,Die bokke moet verseker die regte kombinasie losvoorspelers word gekies anders is da perre leeus se los trio was baie goed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.