Britse Polisie pak SA klubkampioen op Ellispark

ʼn Toerspan van die Britse Polisie durf Saterdag op Ellispark die Suid-Afrikaanse oop klubs se Goue Bekerkampioen, Rustenburg Impala van die Luiperds, in sy eerste toerwedstryd aan.

Die kragmeting dien as voorwedstryd vir die botsing tussen die Lions en die Bulls in die Superrugbyreeks.

Die Britse Bobbies se ander wedstryd is Vrydag 26 Mei teen ʼn uitnodigingspan van die KwaZulu-Natalse Moorbekerhouer, College Rovers.

Dis die vierde keer sedert 1993 dat die Britse geregsdienaars Suid-Afrika besoek. Die ander kere was in 1997, 2006 en 2011.

Watter nostalgie bring die nasionale span van die SA Polisie wat in 1993 by die Polisiekollege in Pretoria met die besoekers kragte gemeet het nie mee nie, soos dit verskyn op ʼn afdruk van die wedstrydprogram op die Britse Bobbies se rugbywebwerf.

Behalwe dat byna almal (indien nie almal nie) die een of ander tyd vir die Blou Bulle uitgedraf het, sluit dit drie Springbokke (FA Meiring, Jannie Claassens en Willie Hills) en ʼn Bokreserwe (Japie Barnard) in.

Die webwerf meld nie die uitslag nie, maar ʼn mens wil glo dit het aansienlik verskil van die klinkende Britse sege van 59-7 teen die SA Polisiediens in 2006 in Pietermaritzburg waarmee die webwerf spog.

’n SA Polisiespan het ook al ’n slag in Brittanje gaan toer.

Die Britse Polisie spog daarmee dat hy – in die jare toe rugbyspelers vir hul plesier gespeel het, en ʼn ander werk gedoen het om aan die lewe te bly – 28 spelers vir die Britse tuisunies en ses vir die Britse en Ierse Leeus opgelewer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.