BRU-liga: bekerwenner koning in naelbytstryd

McGregor se groot slot Allistair Theunissen op loop met die bal teen Mountain Stars.

McGregor se groot slot Allistair Theunissen op loop met die bal teen Mountain Stars.

McGregor, die houer van die Bolandse-rugbyunie se Streekuitdaagbeker, het Saterdag in `n naelbytstryd tot die bitter einde koning oor De Doorns gekraai.

Die kampioen het uiteindelik 31-27 op sy tuisveld gewen, en die skrumskakel, Clement Hamilton, het 14 punte met twee drieë en twee doelskoppe bygedra.

Dit beteken McGregor het die afgelope drie jaar nog nie tuis verloor nie, iets waarvoor hulle die eer aan hul ondersteuners gee wat deur dik en dun by die span staan.

McGregor het in die eerste helfte, met die wind agter sy blaaie, drie drieë gedruk en twee verdoel teen Mountain Stars se een, wat die telling rustyd op 19-5 te staan gebring het.

Kort ná rustyd het McGregor eerste die doellyn geruik toe Allistair Theunissen slot van McGregor in sy eie halfgebied deur `n gaping gebars en netjies na Clement Hamilton, die skrumskakel, laat loop het. Hy het die teenstanders stof laat proe en oorgeduik vir die vierde drie en bonuspunt. Elando Fortuin se doelskop het die telling 26-5 gemaak.

Mountain Stars het nie op hom laat wag nie en op sy beurt die wind gebruik om McGregor te laat omdraai met taktiese skopwerk.

Dit het geslaag. Mountain Stars het vier drieë in die tweede helfte gedruk en een verdoel om sewe minute voor die einde 27-26 voor te loop.

Met McGregor onder druk en aanhoudend teruggedryf met behulp van die sterk wind, het die tuisspan besluit om die bal vas te maak en met sy agttal vorentoe te speel.

Die hoogtepunt vir die kampioen het gevolg nadat hy `n strafskop op sy eie tienmeterlyn gekry het.

Hamilton het `n vinnige tikskoppie geneem, deur die eerste linie van verdedigers gesny, Stars se linkervleul met goeie handewerk afgestamp en met `n verdediger oor die bal na die regtervleuel, Keening Abrahams, uitgegee wat vir die vyfde drie oorgeduik het om McGregor 31-27 te laat wen.

Therence Fourie, Clement Hamilton (twee), Grandre Adendorff en Abrahams het McGregor se drieë gedruk. Hamilton (twee) en Fortuin het met doelskoppe geslaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.